Thursday, October 30, 2014

Waarom tuisskool ouers hul kinders? Wat van sosialisering?



In Suid-Afrika is tuisonderrig besig om te ontplof! Kinders van verskillende tale en kulture tuisskool deesdae: of dit nou deur afstandsleer is of deurdat hulle 'n tuisskoolsentrum bywoon. Watter vorm ouers ookal kies, die redes daarvoor is deur die bank dieselfde en die vraag wat buitestaanders altyd vra is ook dieselfde:  ''Wat van sosialisering? ''


Wat van sosialisering?


Die grootste vrees wat nuwe tuisskolers (en hul familie en vriende) rondom tuisonderrig het, is die geykte kwessie van sosialisering. Hierdie kwessie is al oor en oor deur tuisskolers oorkom deurdat hulle van die volop geleenthede wat deur tuisskool gemeenskappe aangebied word, gebruikmaak om ten minste op 'n weeklikse basis te kan sosialiseer.

Tuisskolers sit beslis nie heeldag by die huis en vereensaam nie. Hulle gaan op uitstappies, doen leierskaps- en avontuurkampe, doen saam kuns, sport en musiek. As mens eers deel van die tuisskoolkringe word, staan jy eenvoudig verstom oor hoeveel sosialiseringsgeleenthede daar werklik vir tuisskolers is. 

As sosialisering op 'n weeklikse basis nie genoeg is nie, skryf ouers hul kinders by tuisskoolsentrums in. By 'n tuisskoolsentrum, kom kinders van verskillende huishoudings daagliks bymekaar om saam te studeer en onderrig te ontvang onder begeleiding van gekwalifiseerde onderwysers wat 'n hart vir tuisonderrig het.


Wat bied 'n tuisskoolsentrum?

 'n Tuisskoolsentrum soos bv. Cum Laude Akademie, in Centurion,, bied aan leerders 'n huislike, veilige omgewing om in te studeer, in te floreer en in te presteer. 

Dit is veral ouers van Graad 9-12 leerders wat hul kinders by tuisskkoolsentrums inskryf omdat hul graag spesialisonderrig in die senior grade aan hul kind wil bied.  

By 'n tuisskoolsentrum verkeer tuisskolers sosiaal met mede- tuisskolers wat dieselfde waardes as hulle het en in dieselfde bootjie as hulle is. Hulle leer saam en stres bietjie saam voor 'n toets / eksamen en gebruik mekaar as klankbord, wat leer stimuleer en prestasies verbeter. Betrokkenheid by 'n tuisskoolsentrum dien as motivering vir leerders en moedig selfs bietjie gesonde kompetise onder mekaar aan, wat leerders se persoonlike dryfkrag verhoog! 

Tuisskoolsentrums verseker ook dat jou kind se akademie op standaard is en aan al die vereistes vir die Graad voldoen. Dit is veral Graad 10-12 wat deesdae 'n tameletjie is deurdat dit as een kwalifikasie hanteer moet word.  Geregistreerde tuisskoolsentrums soos Cum Laude Akademie bly op hul tone en op die voorpunt van nuwe verwikkelinge in die nasionale beleid en gee dit aan tuisskolers en hul ouers deur. 

Hoekom kies ouers om hul kinders te tuisskool?

  • Om hul kind se prestasies te verbeter en akademiese standaarde te verhoog: Tuisskoolouers stem gewoonlik nie saam met die oorvol klasse en tanende akademiese standaard in hoofstroomskole nie,  Hulle wil graag vir hul kinders uitstaande onderrig gee sodat hulle grondslag vir die toekoms sterk kan wees. Die beste tuisskoolsentrums fokus op hoë akademiese standaarde en individuele aandag, dus is tuisskoling 'n uitstekende alternatief tot hoofstroomskoling. Tuisskolers leer van vroeg af om self verantwoordelikheid vir hul studies te neem, hul het meestal hope selfdissipline en weet ook meestal waarheen hulle oppad is. Dit is 'n bekende feit dat tuisskolers beter vaar aan Universiteite omdat hulle goeie tydsbestuurvaardighede van jongs af aangeleer het.
  • Om hul kind te vrywaar teen boelies:
    Talle kinders wat hoofstroom- of privaatskole bywoon was al deur boelies geteiken. Tuisskoolouers vertel soms dat baie van die boelies selfs onderwysers was wat hul kind
    emosioneel benadeel en hul selfvertroue geskend het! Waar kinders eens ekstrovertiese, gelukkige kinders was, het die geboelie hul kinders in hul dop laat kruip. By 'n tuisskoolsentrum kry leerders individuele aandag deur personeel wat 'n passie vir tuisskolers het en ook die hart van tuisskoling verstaan en sal dus nooit so ver gaan as om leerders af te kraak nie. Die waardes wat deur personeel en mede-tuisskolers uitgeleef word is opbouend en laat leerders weer veilig voel om te waag en hul beste te gee. 
  • Om hul kind se morele waardes en geloofslewe te bewaar: Sommige tuisskoolouers voel dat skole se reg om hoë morele standaarde en dissipline te handhaaf weggeneem word. Disrespek teenoor andere is aan die toeneem en raserige klasse, terwyl die onderwyser klasgee, is ook totaal en al onwenslik. Tuisskoolouers wil graag hul kinders se sedes bewaar en verkies dus om hul kinders uit die hoofstroomskole te neem. 
  • Om hul kind se ADHD-simptome onder beheer te bring: ADHD lyers is leerders wat gewoonlik nie die chaos in oorvol klasse kan hanteer nie, Sulke leerders benodig rustiger omstandighede om in te studeer. Hulle sukkel om in 'n warboel te floreer, raak agter in die klas en presteer gevolglik swakker as wat hul hoef. In die tuisskoolsentrum, waar leerders ordelik werk en individuele aandag kry, verminder die ADHD simptome soms drasties en die kind se punte verbeter met rasse skrede.  ADHD lyers raak  nie weg in tuisskoolsentrums nie en pas gewoonlik baie goed in die privater omstandighede aan.
***

Die ware feite is dat tuisskolers oor die algemeen uitstekend gesosialiseer is en kom gewoonlik maklik met alle ouderdomme kinders en volwassenes oor die weg. Hulle beskik meestal oor 'n breë algemene kennis omdat hul ouers van elke geleentheid 'n leergeleentheid gemaak het en kommunikasie in die gesin 'n prioriteit is.

Tuisskoling is sekerlik nie die antwoord vir alle leerders nie, maar is beslis die antwoord vir leerders wat om die redes hierbo genoem, 'n werkbare alternatief soek.

Tuisskoling verg totale toewyding en fokus as jy dit regtig wil maak werk. Deur jou kind in 'n tuisskoolsentrum te plaas, kry jy die beste van twee wêrelde: die veilige, persoonlike aandag van tuisonderrig en die gesellige samesyn met mede-tuisskolers wat, net soos jy, die beste vir hul kinders wil hê.

--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.

Tuesday, October 21, 2014

Wat bied privaat Kurrikulumverskaffers aan Nasionale Senior Sertifikaatleerders?


Van toeka...

Een-tot-een was nog altyd 'n gesogte vorm van onderrig: vir die antieke Grieke was tuisonderrig 'n filosofiese voorreg wat net vir die rykes beskore was. Gedurende die Renaissance, het welgestelde Engelse, ook tuisskooltutors aangestel om hul kinders die fynere kunsies en afronding, wat hul van ander leerders sou onderskei, aan te leer.

Tot nou...

Vandag is privaatonderrig nog net so gewild en in die mode soos in die verre verlede en dit is lankal nie meer net vir die rykes bedoel nie! Ouers, insluitend enkelouers, vanuit alle dele van die samelewing, wend hul deesdae na privaatonderrig omdat hul so vir hul kinders die beste wil gee en oorvol skole nie aan hul kinders se akademiese behoeftes voldoen nie. 

Vandag word jonger kinders getuisskool omdat ouers hul kinders se onafhanklike denke wil stimuleer en hul nuuskierigheid en liefde vir leer wil aanwakker. 

Ouers van tieners wat al in Graad 10-12 is, tuisskool meestal om hul tieners se matriek resultate te verbeter. Ouers plaas hul kinders deesdae in 'n tuisskooltutorsentrum soos Cum Laude Akademie om hul so te help om hul D-simbole na C's en hul B's na A's toe te verhoog. 

Uiteindelik is privaatonderrig of tuisonderrig se hoogste doel om leerders hul maksimum potensiaal te laat bereik en hul punte sodanig op te stoot dat dit hul plek op Universiteit sal verseker.

Hoeveel kinders ondergaan deesdae privaat- / tuisonderrig?

Volgens (http://www.tuisskolers.org) kan ons aanneem dat daar tans meer as 90 000 tuisleerders in Suid-Afrika is en dat daardie syfers steeds jaarliks groei.

Om dus jou kind privaat te laat leer deur middel van afstandsonderrig of privaatonderrig by 'n tuisskool-tutorsentrum, is dus meer ''normaal'' as wat mense dalk sou dink. Talle ouers kies vandag steeds hierdie opsie om so vir hul kinders die beste opvoedingsgeleentheid te gee. 

So baie ouers oorweeg privaat tuisonderrig, maar is te bang om die stap te neem. Die punt is, privaatonderrig is wettig en uiters effektief. Al wat jy moet doen is om jou kind by die beste sentrum in te skryf sodat jy weet jou kind is in goeie hande. Dit is reeds algemeen aanvaarbaar om jou kind uit die hoofstroomskool te haal en die proses is baie eenvoudig. As die oorvol skole nie vir jou kind werk nie, is tuisskoling en afstandsonderrig 'n 100% wettige, gewilde en uitstekende alternatief.

Vir talle leerders is dit verseker die antwoord om te tuisskool.

Watter kurrikulum is die beste vir Graad R-9 en Graad 10-12? 


Daar is 'n magdom kurrikulumverskaffers daar buite! Nie almal is egter geskik om 'n leerder van Graad R-12 te  neem nie.

Vir die jonger grade is dit algemeen aanvaarbaar om so bietjie af te wissel en selfs kombinasies van materiaal in te span om jou kind te leer. In Graad R-9 kan ouers so 'n tikkie meer kreatiwiteit en vryheid gebruik as hul oor 'n kurrikulum besluit - solank hul bewyse van leer, take en toetse byhou en seker maak dat hulle ten minste by die KABV se minimum vereistes vir die leerder se betrokke graad hou. (Natuurlik is meeste tuisskolers nie met die minste tevrede nie, omdat hul juis hul kinders beter as die staatskole wil onderrig!)

Graad 10-12 is wel 'n perd van 'n ander kleur! Ouers moet baie seker maak dat die kurrikulumverkaffer wat hulle gebruik, se akademiese standaard reg is en ten volle aan die vereistes vir die Nasionale Senior Sertifikaat voldoen, voordat hulle hul kind daar inskryf. Graad 10-12 word nou as een kwalifikasie beskou en ouers kan nie meer hul eie ding met hul tieners op hierdie vlak doen nie en sommiges vind dit te laat uit!

Die Departement van Basiese Onderwys het baie spesifieke vereistes vir Graad 10-12. As jou kind die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) aan die einde van Graad 12 wil bekom, moet hul reeds van Graad 10 af aan die erkende kurrikulum werk om aan al die akademiese vereistes te voldoen.

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assessering- en Tutorsentrum wat baie nou saam met die SACAI-eksamenraad werk om te verseker dat Graad 10-12 leerders se werk op standaard is en aan daardie verseistes voldoen.

SACAI is een van S.A. se drie eksamenrade wat die erkende NSS uitreik wat toegang tot Universiteite verleen mits die leerder se vakkeuses en prestasies dit toelaat.    

Hoekom verlaat leerders die hoofstroomskole en skakel hulle by tutorsentra in?

'n Onlangse studie wat Cum Laude Akademie onder tuisskolers / privaatleerders gedoen het, het toon dat meer as 80%  van hulle die hoofstroomskool verlaat het om "op te maak vir die gebreke van die skoolsisteem". 84% van die leerders het rapporteer dat hulle "baie bang vir eksamens is" en voel dat "...'n tutorsentrum soos Cum Laude Akademie hul met deeglike voorbereiding help".

Onder die tuisskoolrespondente was daar ook ander leerders wat privaatonderrig verkies. Uithaler sportmanne en -vroue, onder andere tennisspelers en swemmers, kies om afstandsonderrig te doen omdat hul gereeld aan internasionale kompetisies deelneem en dus nie gewone skole kan bywoon nie. Trouens, hierdie tendens vind toenemend wêreldwyd plaas.

Wat kos dit om 'n Graad 10-12 kind by 'n kurrikulumverskaffer in te skryf?

Daar is verskillende afstandsleer- of tutorsentra-opsies beskikbaar en die kostes wissel:  
  • Afstandsleer kan enige iets tussen R11 000  tot R 18 000 per jaar kos, wat boeke en eksamenraadregistrasies insluit. Nie alle afstandsleer verskaffers bied dieselfde vlak van diens aan nie. Die prys is gewoonlik 'n aanduiding van hoeveel ondersteuning jy as afstandsleerder kan verwag. Pryse behoort ook eksamenfooie in te sluit. Om te verseker dat jy die beste waarde vir jou geld kry, moet jy seker maak dat die sentrum jou kind se vraestelle sal nasien en jy spoedige terugvoer na afloop van die toets kan verwag. Daar is sentra wie se kommunikasie met hul leerders baie swak is en wat geen of min ondersteuning aan leerders bied. Ander sentra lê egter groot klem op kommunikasie plaas en leerders oor enige afstand heen begelei. Maak seker dat jy die regte diensverskaffer kies wat by jou behoeftes pas!
  • Sentrumleer kan enige iets vanaf R38,000 tot R42 000 per jaar beloop, wat boeke, tutors en eksamenraadregistrasies insluit. Maak seker dat die sentrumleerders bobaas begeleiding kry en dat die sentrumbestuur in gereelde kontak met jou as ouer is, voordat jy 'n sentrum kies.  

Waarvoor betaal mens as jy by 'n kurrikulumverskaffer inskryf?

Kurrikulumverskaffers en tutorsentra word geensins deur die staat subsideer nie. Daar is geweldige administratiewe verpligtinge wat geregistreerde diensverskaffers moet nakom om te verseker dat die SACAI eksamenraad die tutorsentrum se leerders se werk positief kan modereer. Kurrikulumverskaffers moet ook alle leerders se klaswerk nasien, vraestelle opstel en nasien, opleiding bywoon en sorg dat leerders altyd op hoogte van akademiese sake is. 

Ongelukkig is nie alle kurrikulumverskaffers se standaard ewe hoog nie. Die KABV (CAPS) kurrikulum gee baie goeie riglyne aan diensverskaffers, maar die finale uitvoering daarvan berus by die kurrikulumverskaffer. Dit gebeur dat leerders eers tydens eksterne eksamens agterkom dat hul akademiese vlak nie op standaard ie nie, dus moet ouers verseker dat hul diensverskaffer weet waaroor die werk gaan en wat die vereistes behels.  Cum Laude Akademie beskik oor ervare tutors wat in noue kontak met SACAI, die eksamenraad werk,   

Is tuisonderrig die geld werd?

Ja beslis! Dit is 'n alombekende feit dat privaatonderrig: afstandsleer of sentrumleer, wat reg gedoen word, kinders se prestasies verhoog en wenners kweek. 

Dit is egter belangrik dat die onderrig streng gemodereer word om so te versker dat die akademie op standaard is. Leerders wat by 'n tutorsentrum soos Cum Laude Akademie inskakel se punte verbeter geleidelik namate hul die Cum Laude Akademie se sisteem leer ken, aanvaar en daarmee saamwerk. 

Ons navorsing het bewys dat veral seuns se punte drasties verhoog wanneer hul by die sentrum inskakel.

Standvastigheid en tyd is die sleutel tot Graad 10-12 sukses. Leerders wat reeds in Graad 10 by Cum Laude Akademie inskakel, se suksesvlakke neem toe namate hulle langer deel van die sentrum is. Met verloop van tyd ontwilkkel Cum Lauders selfvertroue en kan min hul van stryk bring.

So,as jou kind daarmee kan doen om raakgesien, waardeer en aangemoedig te word en kan baat by so tikkie ekstra selfvertroue, dan is dit dalk nou die tyd om die lang uitgestelde besluit te neem om jou kind na 'n privaatonderrigsentrum soos Cum Laude Akademie te skuif.

Doelgerigte Voortreflikheid!


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 10-11 leerders in 2015 is nou oop.


Tuesday, October 14, 2014

Hoe werk Graad 10-12 portefeuljelêers in die KABV (CAPS) Kurrikulum?


Hoe belangrik is die Graad 10-12 portefeuljelêers ?




Sedert die nuwe KABV (CAPS) kurrikulum in 2012 in werking getree het, spartel sommige tuisskoolouers nog om agter die kap van die byl te kom. Hoe werk die nuwe Graad 10-12 kurrikulum nou regtig in praktyk? Te veel of te min inligting hieroor verwar tuisskoolgesinne en verhoed hulle om gefokus te werk om die einddoel te bereik. 

Dit is belangrik dat tuisskolers weet wat die nuwe kurrikulum van hulle verwag, want heelwat tuisskolers het al sedert 2012 met 'n skok besef dat hul kinders nie vir Graad 12 kon inskryf toe hulle gevoel het dat hul kind nou oud genoeg of gereed is daarvoor, soos in die verlede nie. 'n Hele paar tuisskolers het op die harde manier geleer en moes noodgedwonge Graad 10 en 11 herhaal! 

As leerders nie kan bewys dat hul in Graad 10 en 11 aan al die vereistes om na Graad 12 bevorder te word, voldoen het nie, mag hul nie vir Graad 12 inskryf nie. Om bewys van 'n paar toetse te lewer wat geslaag is, is nie meer die enigste vereiste as leerders die Nasionale Senior Sertifikaat wil behaal nie.    

Portefeuljetake in alle Graad 10-12 vakke

Die Departement van Basiese Onderwys vereis dat alle leerders portefeuljelêers byhou waarin die voorgeskrewe take en toetse wat die leerder deur die jaar gedoen het gelewer word. Om vir Graad 12 in te skryf, moet leerders dus 'n volledige Graad 10 en 11 portefeuljelêer kan voorlê te midde van die eksamens wat leerders in Graad 10 en 11 moes slaag. 

Wat is die doel van die portefeuljetake?

Die doel van hierdie Skool Gebasseerde Assesseringtake (SGA), is o.a. om:
  • leerders aan te moedig om probleme te identifiseer en op te los, 
  • leerders te leer om doeltreffend saam met ander as lede van ’n span te werk 
  • om hul te leer om hulself te organiseer en te bestuur 
  • om inligting te leer versamel, te ontleed, te organiseer en krities te evalueer 
  • leerders te leer om doeltreffend deur middel van visuele, simboliese en / of taalvaardighede in verskillende vorme te kommunikeer.
Die leerder se SGA-punt tel saam met die eksamenpunte om die finale punt per vak op te maak. 

Kan tuisskolers hul eie take uitdink en in die portefeuljelêers plaas?

Nee. Dit is nie goed genoeg om in Graad 10-12 'n paar bewysstukke van vorige leer in 'n lêer te hou nie. Die departementele voorskrifte is baie spesifiek. Die werkstukke wat daarin geplaas moet word is voorgeskryf en moet volledig bygehou word as die leerder bevorder wil word.

Hoekom moet my kind 'n volledige portfeuljelêer vir Graad 10, 11 en 12 kan voorlê? 

Die portefeuljelêer dien as bewys dat die leerder die vakinhoud deurgewerk het en die nodige kritiese denke en vaardighede ontwikkel het om die vak te bemeester. Die SGA-punt verbeter ook leerders se kanse om vakke te slaag, aangesien dit saam met eksamenpunte tot 'n finale punt verwerk word. As die leerder dus goeie take en projekte indien, is dit tot hul eie voordeel. 

Verder behou UMALUSI hulself die reg voor om leerders, wat so min as een taak uitstaande in hul portefeuljelêer het, se matriekuitslae te weerhou totdat die werk ingehandig is - of dit nou 'n Graad 10, 11 of 12 taak / opdrag is! Daar is bewyse hiervan in die media waar ouers nie kon verstaan waarom hul kind se matriekuitslae nie bekendgemaak was nie. 

Glo my, ons wil nie dit aan ons kinders doen nie! Doen maar eerder die ding reg...

Hoe kan en verseker dat my kind aan al die Graad 10-12 vereistes voldoen?

Om te verseker dat jou kind se werk aan al die vereistes voldoen en volledig is, is dit raadsaam om jou tiener by 'n geregistreerde SACAI tutorsentrum soos Cum Laude Akademie in te skryf vir die Graad 10-12 fase. Hier sal jou tiener met ander tuisskolers kan sosialiseer en deel voel van 'n groep wat almal ewe hard moet werk. Cum Laude Akademie begelei die leerders deur die dag en verseker dat hulle weet wat van hulle verwag word. Cum Laude Akademie handig ook die leerders se lêers by SACAI in vir moderering, sodat jy as ouer seker kan wees dat jou kind se akademie op standaard is.

Afstandsleerders wat by Cum Laude Akademie inskakel, word ook deeglik begelei in die verband, maar Cum Laude Akademie hou die portefeuljelêers by hulle en bestuur dit namens die tuisskoler.

                                                                        ****

Graad 10-12 is nie vir sissies nie! Die Graad 10-12 kwalifikasie is nou een kwalifikasie en tuisskolers word aangeraai om reeds vanaf Graad 10 by Cum Laude Akademie in te skakel sodat die leerders genoeg tyd het om aan Cum Laude Akademie se sisteem gewoond te raak en om matrieksukses te verseker. 


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 10-11 leerders in 2015 is nou oop.



Sunday, October 5, 2014

Cum Laude Akademie se Afstandsleer help Tuisskolers om die Nasionale Senior Sertifikaat te behaal

AFSTANDSLEER GRAAD 10-12


Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assessering- en Tutorsentrum in die Pretoria-omgewing wat aan leerders wat verkies om te tuisskool, die geleentheid bied om hul Graad 10-12, met die oog op die Nasionale Senior Sertifikaat Eksamen (matriek), deur *afstandsonderrig te bekom. Afstandsleerders van regoor S.A. werk in die privaatheid van hul eie huise, maar kommunikeer gereeld met Cum Laude Akademie in Centurion, Gauteng, om te verseker dat hulle in pas bly en alle werk betyds voltooi. Cum Laude Akademie se afstandsleerders kan nie bloot net teen hul eie pas werk nie. Hul kry akademiese projekte wat op bepaalde datums ingehandig moet word in opdrag van SACAI, die ekterne eksamenraad vir tuisskolers.

*Bepalings en Voorwaardes geld

Watter sertifikaat behaal Cum Laude Akademie se Graad 12 afstandsleerders?

Cum Laude Akademie Graad 12 afstandsleerders ontvang die dieselfde Nasionale Senior Sertifikaat as hoofstroomskole se leerders, na suksesvolle afhandeling van ALLE Graad 10-12 take en eksamens.  Dit is van uiterse belang om erkenning in die werksplek asook verdere studies te verseker.

Wat bied Cum Laude Akademie die Graad 10-12 afstandsleerder?

Afstandsleerders ontvang bobaas hulp en begeleiding van Cum Laude Akademie reg deur die jaar!

Cum Laude Akademie stuur die afstandsleerder se werkskedules aan die begin van elke kwartaal na die leerder sodat die leerder die werkspas kan bepaal en byhou. Cum Laude Akademie stel ook alle toetse op en merk dit nadat die leerder dit ingestuur het. Cum Laude Akademie merk ook alle take en mondelinge wat deur die eksamenraad voorgeskryf word.

Verder administreer Cum Laude Akademie ook die afstandsleerder se portefeuljelêer wat elke kwartaal deur SACAI modereer word.  Afstandsleerders is altyd welkom om Cum Laude Akademie te kontak as hulle onseker is of  vashaak en hoef nooit alleen of afgesluit te voel nie.

Hoe werk Graad 10-12 afstandsleerders se toetse en eksamens?


Cum Laude Akademie afstandsleerders moet presies dieselfde hoeveelheid toetse en take as sentrumleerders / hoofstroomskoliere afhandel en inhandig, aangesien die Graad 10-12 take, toetse deur SACAI en UMALUSI voorsgeskryf en wetlik verplig word.

Graad 12 afstandsleerders skryf, net soos sentrumleerders, 'n Junie-en Rekordeksamen asook die Oktober-eindeksamen wat ekstern deur SACAI opgestel en gemerk word.

Om aan hierdie vereistes te voldoen, is alle afstandleerders van Graad 10 -12  verplig om die eksamens by die Cum Laude Akademie-kampus in Centurion, Pretoria af te lê. Afstandsleerders is verantwoordelik vir hul eie reis en verblyfreëlings vir die volle duur van die eksamen wat meestal oor ‘n periode van 3-4 weke per eksamen strek.

Die vereiste eksamenomstandighede word ekstern deur SACAI voorgeskryf en dit is in die kind se beste belang om daaraan gewoond te raak. Eksamens wat korrek afgeneem word, gee die leerder die geleentheid om vir die uiteindelike Graad 12 eindeksamen voor te berei deurdat die leerder aan die formele eksamenlokaal-atmosfeer blootgestel word. Hoewel eksamentye vir sommige afstandsleerders verblyfsuitdagings mag bied, is dit egter uiters belangrik ter voorbereiding van elke leerder se eksamensukses.

Wat het 'n tuisskoler nodig wat afstandsonderrig deur Cum Laude Akademie doen?

  • Alle Cum Laude Akademie-afstandsleerders moet gemaklike toegang tot selfone en die internet hê, aangesien meeste kommunikasie d.m.v. SMS, WhatsApp of epos plaasvind, asook Skype waar nodig. 
  • Alhoewel Cum Laude Akademie tuisskolers wat afstandsonderrig doen baie goed begelei, bly dit ook elke ouer se plig om toe te sien dat hul kind toegang tot 'n tutor het wat in hul omgewing bly. Vakke soos Wiskunde en Wetenskap is nie grappies op Graad 10-12 vlak nie en afstandsleerders het nodig om met vakkenners kontak te hê wanneer hulle afstandsonderrig doen. Die kostes daarvan is die ouers s'n. 
  • Afstandsleerders benodig ook die jaar se handboeke soos deur Cum Laude Akademie voorgeskryf.
  • Afstandsleerders benodig verder skryfbehoeftes soos eksamenblokke, 'n krambinder, gom, skêr, oefeningboeke en 'n aanvaarbare sakrekenaar soos die CASIO FX991ES PLUS.
  • Die tuisskoler moet ook toegang tot 'n drukker en skandeerder in die huis hê.

Watter kwaliteite is nodig om sukses as afstandsleerder te behaal?

Families wat afstandsleer oorweeg, moet vooraf besef dat hulle streng werksetiek benodig om suksesvol te wees.

Die werkspas en werkslas vir Graad 10-12 is baie vinnig en verg streng selfdissipline waarsonder sake vir die leerder ernstig bemoeilik sal wees.

Cum Laude Akademie verwag van tuisskolers (sentrumleerders sowel as afstandsleerders) verantwoordelikheid, selfwerksaamheid, getrouheid en voortreflikheid.

Graad 10-12 afstandsleerders en tuisskolers benodig ook toewyding, begrip en ondersteuning van familielede, aangesien die korrekte atmosfeer in die leerder se werksomgewing moet bestaan om die nodige werkspas te kan handhaaf om betyds deur alle werk te kom.

Ontydige wegbreeknaweke of vakansies buite-seisoen is nie meer in Graad 10-12 moontlik as die tuisskoler ernstig oor hul skoolwerk is nie.

Kan afstandsleerders Universiteitsvrystelling kry vir verdere studie?

Ja beslis! Afstandsleerders wat by Cum Laude Akademie ingeskryf is, voldoen net soos ander leerders aan die vereistes vir die Nasionale Senior Sertifikaat wat 'n voorwaarde vir tersiêre studie is, as hul die opdragte uitvoer en eksamens slaag. Die SACAI matrieksertifikaat verleen dieselfde toegang tot universiteite. Die regte vakkeuses en aanvaarbare prestasiesvlakke is egter Universiteitsvrystellingsvereistes wat leerders persoonlik aan moet voldoen. As die leerder verkeerde vakke in Graad 9 kies wat nie toelating tot Universiteite bied nie of swak presteer, kan die leerder dalk vrystelling verbeur.

Dit bly die ouer en leerder se verantwoordelikheid om by die tersiêre inrigting waar die leerder na skool wil studeer, reeds in Graad 9 uit te vind wat die spesifieke toelatingsvereistes vir spesifieke studierigtings is. Soms gaan dit buiten die Nasionale Senior Sertifikaat met spesiale vakkombinasies of met spesifieke minimum prestasievlakke gepaard. Die leerder moet vroegtydig hiervan weet, sodat hul doelgerig reeds in Graad 10 daarheen kan mik.

Waarom moet tuisskolers Cum Laude Akademie vir afstandsleer kies?

Tuisskolers wat by Cum Laude Akademie se afstandsleer ingeskryf is, se kanse op sukses is baioe groot omdat Cum Laude Akademie 'n leerders se hand vat en saam die pad na die matrieksertifikaat stap. Cum Laude Akademie het nog altyd 'n hart vir tuisonderrig en help graag leerders wat vertroud met tuisonderrig is of wat na hoofstroomskoling besluit om privaatonderrig tuis te ontvang.

Cum Laude Akademie-afstandsleerders word deurgans begelei om gefokus tuis te werk, by skedules te hou en so die hewige werksdruk te hanteer. Afstandsleerders het deurgaans kontak met Cum Laude Akademie en word ook vir eksamens afgerig.

Wat is die afstandsleer alternatief as die tuisskoler nie tuis kan byhou nie?

Tuisskolers wat voel dat hulle nie die pas met afstandsleer tuis kan baasraak nie, kan by die Cum Laude Akademie se tutorsentrum in Centurion inskakel waar leerders daagliks die nodige begeleiding ontvang en ook kan sosialiseer met ander tuisskolers wat in dieselfde bootjie as hulle is.

Graad 10-12 afstandsonderrig het beslis sy voordele, maar bied ook sy uitdagings. Die nuwe KABV (CAPS) Graad 10-12 is ‘n formele kwalifikasie en die tipiese rustiger tuisonderrigstyl wat tuisskoolleerders dikwels in Graad R-9 toe pas, is in Graad 10-12 nie meer raadsaam nie. Die pas in Graad 10-12 is baie vinniger, die werkslas groter en die vereistes baie hoër.


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.