Thursday, October 30, 2014

Waarom tuisskool ouers hul kinders? Wat van sosialisering?



In Suid-Afrika is tuisonderrig besig om te ontplof! Kinders van verskillende tale en kulture tuisskool deesdae: of dit nou deur afstandsleer is of deurdat hulle 'n tuisskoolsentrum bywoon. Watter vorm ouers ookal kies, die redes daarvoor is deur die bank dieselfde en die vraag wat buitestaanders altyd vra is ook dieselfde:  ''Wat van sosialisering? ''


Wat van sosialisering?


Die grootste vrees wat nuwe tuisskolers (en hul familie en vriende) rondom tuisonderrig het, is die geykte kwessie van sosialisering. Hierdie kwessie is al oor en oor deur tuisskolers oorkom deurdat hulle van die volop geleenthede wat deur tuisskool gemeenskappe aangebied word, gebruikmaak om ten minste op 'n weeklikse basis te kan sosialiseer.

Tuisskolers sit beslis nie heeldag by die huis en vereensaam nie. Hulle gaan op uitstappies, doen leierskaps- en avontuurkampe, doen saam kuns, sport en musiek. As mens eers deel van die tuisskoolkringe word, staan jy eenvoudig verstom oor hoeveel sosialiseringsgeleenthede daar werklik vir tuisskolers is. 

As sosialisering op 'n weeklikse basis nie genoeg is nie, skryf ouers hul kinders by tuisskoolsentrums in. By 'n tuisskoolsentrum, kom kinders van verskillende huishoudings daagliks bymekaar om saam te studeer en onderrig te ontvang onder begeleiding van gekwalifiseerde onderwysers wat 'n hart vir tuisonderrig het.


Wat bied 'n tuisskoolsentrum?

 'n Tuisskoolsentrum soos bv. Cum Laude Akademie, in Centurion,, bied aan leerders 'n huislike, veilige omgewing om in te studeer, in te floreer en in te presteer. 

Dit is veral ouers van Graad 9-12 leerders wat hul kinders by tuisskkoolsentrums inskryf omdat hul graag spesialisonderrig in die senior grade aan hul kind wil bied.  

By 'n tuisskoolsentrum verkeer tuisskolers sosiaal met mede- tuisskolers wat dieselfde waardes as hulle het en in dieselfde bootjie as hulle is. Hulle leer saam en stres bietjie saam voor 'n toets / eksamen en gebruik mekaar as klankbord, wat leer stimuleer en prestasies verbeter. Betrokkenheid by 'n tuisskoolsentrum dien as motivering vir leerders en moedig selfs bietjie gesonde kompetise onder mekaar aan, wat leerders se persoonlike dryfkrag verhoog! 

Tuisskoolsentrums verseker ook dat jou kind se akademie op standaard is en aan al die vereistes vir die Graad voldoen. Dit is veral Graad 10-12 wat deesdae 'n tameletjie is deurdat dit as een kwalifikasie hanteer moet word.  Geregistreerde tuisskoolsentrums soos Cum Laude Akademie bly op hul tone en op die voorpunt van nuwe verwikkelinge in die nasionale beleid en gee dit aan tuisskolers en hul ouers deur. 

Hoekom kies ouers om hul kinders te tuisskool?

  • Om hul kind se prestasies te verbeter en akademiese standaarde te verhoog: Tuisskoolouers stem gewoonlik nie saam met die oorvol klasse en tanende akademiese standaard in hoofstroomskole nie,  Hulle wil graag vir hul kinders uitstaande onderrig gee sodat hulle grondslag vir die toekoms sterk kan wees. Die beste tuisskoolsentrums fokus op hoë akademiese standaarde en individuele aandag, dus is tuisskoling 'n uitstekende alternatief tot hoofstroomskoling. Tuisskolers leer van vroeg af om self verantwoordelikheid vir hul studies te neem, hul het meestal hope selfdissipline en weet ook meestal waarheen hulle oppad is. Dit is 'n bekende feit dat tuisskolers beter vaar aan Universiteite omdat hulle goeie tydsbestuurvaardighede van jongs af aangeleer het.
  • Om hul kind te vrywaar teen boelies:
    Talle kinders wat hoofstroom- of privaatskole bywoon was al deur boelies geteiken. Tuisskoolouers vertel soms dat baie van die boelies selfs onderwysers was wat hul kind
    emosioneel benadeel en hul selfvertroue geskend het! Waar kinders eens ekstrovertiese, gelukkige kinders was, het die geboelie hul kinders in hul dop laat kruip. By 'n tuisskoolsentrum kry leerders individuele aandag deur personeel wat 'n passie vir tuisskolers het en ook die hart van tuisskoling verstaan en sal dus nooit so ver gaan as om leerders af te kraak nie. Die waardes wat deur personeel en mede-tuisskolers uitgeleef word is opbouend en laat leerders weer veilig voel om te waag en hul beste te gee. 
  • Om hul kind se morele waardes en geloofslewe te bewaar: Sommige tuisskoolouers voel dat skole se reg om hoë morele standaarde en dissipline te handhaaf weggeneem word. Disrespek teenoor andere is aan die toeneem en raserige klasse, terwyl die onderwyser klasgee, is ook totaal en al onwenslik. Tuisskoolouers wil graag hul kinders se sedes bewaar en verkies dus om hul kinders uit die hoofstroomskole te neem. 
  • Om hul kind se ADHD-simptome onder beheer te bring: ADHD lyers is leerders wat gewoonlik nie die chaos in oorvol klasse kan hanteer nie, Sulke leerders benodig rustiger omstandighede om in te studeer. Hulle sukkel om in 'n warboel te floreer, raak agter in die klas en presteer gevolglik swakker as wat hul hoef. In die tuisskoolsentrum, waar leerders ordelik werk en individuele aandag kry, verminder die ADHD simptome soms drasties en die kind se punte verbeter met rasse skrede.  ADHD lyers raak  nie weg in tuisskoolsentrums nie en pas gewoonlik baie goed in die privater omstandighede aan.
***

Die ware feite is dat tuisskolers oor die algemeen uitstekend gesosialiseer is en kom gewoonlik maklik met alle ouderdomme kinders en volwassenes oor die weg. Hulle beskik meestal oor 'n breë algemene kennis omdat hul ouers van elke geleentheid 'n leergeleentheid gemaak het en kommunikasie in die gesin 'n prioriteit is.

Tuisskoling is sekerlik nie die antwoord vir alle leerders nie, maar is beslis die antwoord vir leerders wat om die redes hierbo genoem, 'n werkbare alternatief soek.

Tuisskoling verg totale toewyding en fokus as jy dit regtig wil maak werk. Deur jou kind in 'n tuisskoolsentrum te plaas, kry jy die beste van twee wêrelde: die veilige, persoonlike aandag van tuisonderrig en die gesellige samesyn met mede-tuisskolers wat, net soos jy, die beste vir hul kinders wil hê.

--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.