Saturday, November 29, 2014

Wat elke Graad 9 leerder moet weet en doen VOORDAT hulle Graad 10-12 vakke kies!


Elke mens behoort te droom oor 'n blink toekoms. Elkeen van ons beskik oor die potensiaal om suksesvol te wees. 


Beskik jong Graad 9 leerders oor die vermoë om te droom oor toekomstige sukses? Beskik hul oor die ervaring om vakkeuses uit te oefen wat hul toekomsplanne kan maak of breek?

In my ervaring met leerders, is daar maar net 'n handjievol wat oor sulke vermoëns beskik. In die meeste suksesvolle gevalle het ouers hul kinders gehelp om kennis oor loopbane en studierigtings in te win, sodat hulle ingeligte loopbaankeuses kon maak.

Hoe dit ookal sy, of jou kind nou 'n advokaat, onderwyser, loodgieter of aktuaris wil word, hul moet reeds in Graad 9 die regte vakke kies om daardie droom te bewaarheid. Ons as ouers behoort ons kinders in hierdie proses te ondersteun met alles wat in ons is!

Daar is diegene wat gelukkig genoeg is om hul kinders na skool na ‘n Kollege of Universiteit toe te stuur vir verdere opleiding en vir sulke studente is die kanse om hul talente en belangstellings in 'n goeie beroep uit te leef baie groot, maar as hul nie reeds in Graad 9 die regte vakke vir Graad 10-12 gekies het nie, kan dit die hele appelkar vol toekomsdrome omgooi.


Waar begin mens?

Daar is soveel studie- en beroepsgeleenthede beskikbaar. Dit is nogal oorweldigend om een studierigting uit die massa en massas moontlikhede te kies. Om die beste keuses te maak, behoort ons lank voor Graad 9 al met ons huiswerk te begin om so die kinders se visie en horisonne te verbreed! As jy graag jou kind hiermee wil help, kan jy dalk volgende raad te volg:

  • Stel voor dat jou kind met jou, hul maats en die Lewensoriënteringsonderwyser oor hul toekomsplanne gesels.
  • Woon saam met jou kind loopbaanuitstallings by, besoek relevante stalletjies en vind uit oor die toelatingsvereistes.
  • Besoek 'n werkplek en gesels met mense wat in daardie beroepsveld werk. 
  • Gesels met studente wat reeds in daardie rigting studeer. 
  • Kontak universiteite en vra uit oor hul toelatingsvereistes en vra hul prospektus met kursusse aan. 
  • Doen deeglike internetnavorsing oor die rigting wat jou kind oorweeg.
  • Laat jou kind deur 'n Beroepsielkundige evalueer. 

Om hierdie tipe navorsing eers in Graad 11 en 12 te begin doen, is eintlik te laat. Meeste universiteite aanvaar nuwe kandidate op grond van hul Graad 11 prestasies en as jou kind dus nie van Graad 9 af weet hoe belangrik moontlike spesifieke vakprestasie vir sekere studierigtings is nie, mag hulle dalk die fout maak om nie hard genoeg in Graad 9-11 te studeer nie, swak punte in die vakke behaal en dan nie aan al die toelatingsvereistes vir die gekose studierigting voldoen nie. 

Hoe om die regte vakke te kies 

Die skoolvakke wat jou kind vir Graad 10 tot 12 kies, bepaal vir watter universiteitstudieprogramme hul sal kan aansoek doen. Jou kind se skoolvakke en die vakprestasies moet ooreenstem met die toelatingsvereistes van die instansies waar hul wil studeer en met die studierigtings wat hulle kies.  

Jy en jou kind kan hierdie raad volg om aan die einde van Graad 9 die regte vakke te kies: 

  • Vind uit waarin jou kind uitblink: Dit help wanneer jy weet wat jou kind se sterkpunte is. Maak ’n lys van elke vak en vra of hulle dit geniet, goed daarin vaar, of dit hul leerstyl pas en of dit hulle in die toekoms gaan help. 
  • Kry deurlopende ekstra klasse in probleemvakke: Omdat jou kind se Wiskunde- of Wetenskappunte swak is, beteken nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie. Die probleem kan eerder by gebrek aan studievaardighede of gebrek aan genoeg kennis lê, wat maklik aangespreek kan word en die probleem kan oplos. 
  • Moenie onder groepsdruk swig nie: Jou kind kan in die versoeking kom om ’n vak te kies net omdat hul vriende dit kies. Dit kan hul moontlik duur te staan kom as dit nie die regte keuse vir hul eie toekoms is nie.  
  • Beplan vooruit: Graad 9  leerders is nog jonk en om sulke groot besluite te neem op daardie ouderdom is nie maklik nie. Soos wat hul ouer word ontdek hul dalk ander interessante loopbane om van te kies. Deur vakke te kies wat ’n wye speling bied is dus wys. Met wye speling vakke is hul keuses vir verdere opleiding of toekomstige werkgewers nie beperkend nie. Deur by die meer algemene vakke te bly wat enige deur vir hulle kan oopsluit in die toekoms, is dus wys indien jou kind nog nie 'n vaste loopbaanbesluit geneem het nie. Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Geografie, Besigheidstudies, Ekonomie is van die vakke wat meer algemeen is en baie deure kan oopsluit. 

Wat van die gevreesde Wiskunde?

Met die instelling van Wiskunde Geletterdheid as ’n alternatief vir Wiskunde, is die versoeking om die makliker uitweg te kies, yslik groot! 

Dit is baie belangrik om jou kind te begelei en te ondersteun om goed na te dink oor watter een van die twee jou kind sal bevoordeel in die toekoms.

Talle naskoolse studierigtings verg Wiskunde as toelatingsvereiste alhoewel Wiskunde Geletterdheid in ander gevalle ook aanvaarbaar is. Maak baie seker watter een van die twee die voorgenome studierigting vereis. 

As jou kind tans swak in Wiskunde presteer en dus nie van die vak hou nie, beteken dit nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie! Dit kan bloot beteken dat:
  • jou kind dalk nie genoeg Wiskunde oefen nie, 
  • dalk nie regtig die begrippe in die klas verstaan het nie 
  • of selfs nie weet hoe om vir Wiskunde te leer nie. 
As daar gebrekkige begrip van moeilike konsepte is, kan 'n ekstra Wiskunde- klasse die probleem gou oplos!

Mens moet regtig daarteen waak om nie 'n leerder se toekomsmoontlikhede te beperk omdat die wortel van die leerder se Wiskunde probleem nie gesoek en opgeklaar is nie. Deur die kind te leer hoe om hierdie uitdaging te oorkom en toe te rus met die nodige kennis, kan hul dalk die Wiskunde- monster  oorwin en hul toekomsmoontlikhede verbreed. 

Wiskunde Geletterdheid het beslis sy plek! Daar is leerders wat nie nodig het om die moeilike Wiskundige begrippe te verstaan of wat nie oor die kognitiewe vermoë beskik om Wiskunde te bemeester nie. Vir diegene is Wiskunde Geletterdheid 'n uitkoms.

'n Bekende professor het egter iewers opgemerk dat Wiskunde Geletterdheid ’net deur die gemiddelde en selfs slim kinders gekies word as hul 'n maklike uitweg soek. Hy meen dat die vak net kortstondige verligting bring, maar dat dit kinders kniehalter wanneer dit by verdere opleiding na skool kom.

Hoekom is Wiskunde belangrik?


  • Dit verbeter jou kind se logiese en kritiese denke
  • Dit kweek deursettingsvermoë 
  • Dit ontwikkel probleemoplossingsvaardighede
  • Dit bou jou kind se karakter
  • Dit vergemaklik tersiêre studie al is dit harde werk om die vak werklik te bemeester
  • Wiskunde maak open deure wat tot ’n verskeidenheid van studierigtings en loopbane lei.

Begin reeds vroegtydig om met jou kind oor moontlike vakkeuses te praat sodat julle genoeg tyd het om daaroor te dink en die nodige navorsing te kan doen. 

Vir die van julle wat klaar in Graad 10 en 11 is, is daar steeds hoop as jul nog gou van vak in die nuwe jaar wil verander. Die eksamenrade skep vir leerders die geleentheid om vroeg in die jaar vakveranderings te doen. Begin net dadelik daaroor dink! Dit sou nie raadsaam wees om eers in Graad 12 vakke te verander nie, aangesien die akademiese jaar veels te kort is en jou kind nie genoeg tyd sal hê om die vak voor die eindeksamen te bemeester nie, 

Cum Laude Akademie in Centurion help Graad 10-12 tuisleerders om saam met die ouers en leerders, die regte vakkeuses uit te oefen. Ons tuisonderrigesentrum ontwikkel leerders as 'n geheel en maak van hulle wenners, as hulle die raad wat ons gee volg en hul deel heelhartig doen.

Vir verdere raad oor Graad 9-12 vakkeuses, kontak ons gerus. Ons help graag. 


-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.











Friday, November 21, 2014

Nuwe Wiskunde Regulasie Wink Op Die Horison


Voornemende Graad 10 leerders moet kennis neem van die volgende aangaande Wiskunde Graad 10-12. 


Alle aanduidings is daar dat die Nasionale Senior Sertifikasie-regulasies eersdaags aangepas sal word om Wiskunde vir Graad 10-12 leerders, wat die volgende vakke neem, verpligtend te maak : 
  • Fisiese Wetenskappe, 
  • IT, 
  • Lewenswetenskappe, 
  • Rekeningkunde, 
  • Ekonomie,
  • Geografie en 
  • Geskiedenis
Te veel leerders kies om die minder uitdagende Wiskundige Geletterdheid te neem, terwyl vakke soos hierbo genoem, soms ingewikkelde Wiskundige berekenings verlang wat nie in die Wiskundige Geletterdheidsillabus aangespreek word nie. Wiskunde is eenvoudig die sleutel tot baie meer deure as Wiskunde Geletterdheid! Al behaal jou kind eendag net 40% vir Wiskunde in Graad 12, het hul steeds Wiskunde as vak op hul sertifikaat met baie meer opsies vir toekomstige studie!

Dit is dus nie raadsaam vir nuwe Gr 10-leerders om sommer uit die staanspoor Wiskundige Geletterdheid as vak te kies as hul enige van die ander genoemde keusevakke wil neem nie! 

Daar is nog nie duidelikheid wanneer die nuwe regulasie ingestel gaan word nie. Dit blyk nie asof dit vir 2015 beplan word nie, maar leerders word aangeraai om eerder nou reeds reg te kies, sodat hulle nie dalk later deur die regulasie geraak sal word nie.


Watter studierigtings verlang Wiskunde as vak?


Wiskunde, en nié Wiskundige Geletterdheid nie, is ‘n vereiste vir universiteitstudies in die volgende velde:
  • Aptekerswese
  • Argitektuur
  • Besigheids- en finansiële studies
  • Biochemie
  • Biomediese Tegnologie
  • Chemie
  • Fisika
  • Ingenieurswese (insluitende siviel, elektries,bedryfs, meganies en megatronika)
  • Konstruksiestudies en Konstruksie-ekonomie (die boubedryf)
  • Mikrobiologie
  • Natuur- en fisiese wetenskappe (BSc programme)
  • Onderwys (vir voornemende Wiskunde-, FisieseWetenskappe- en Rekeningkunde-onderwysers)
  • Polimeertegnologie (rubber-, plastiek- en verftegnologie)
  • Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels
  • Rekeningkunde
  • Wiskunde en Wiskundige Statistiek

Maar my kind se Wiskunde is swak! 


Jy dink dalk jou tiener se Wiskunde is swak. Jou kind voel dalk hul het die stryd teen Wiskunde verloor en dat Wiskundige Geletterdheid die enigste antwoord is. 

Wees verseker, jy en jou kind is nie die enigstes wat so voel nie! Meeste Graad 10-12 leerders voel ongelukkig so!

Leerders wat so ''verlore'' voel, glo meestal dat hul nie ''slim'' genoeg is om Wiskundige konsepte te verstaan nie. Hul voel en glo gewoonlik dat dit nie saakmaak hoe hard hulle leer nie, Wiskunde bly maar Grieks...
Ons almal weet dat jou kind beslis nie te ''dom'' vir Wiskunde is nie! Die enigste verskil tussen jou Graad 10-12 leerder en 'n leerder wat 80+%  vir Wiskunde kry, is die AKSIES wat hulle daagliks neem... 

As jou kind tans nie goed in Wiskunde vaar nie en daarom Wiskundige Geletterdheid vanaf Graad 10 wil neem, moet jy eers probeer bepaal of:

  • jou kind regtig weet hoe om Wiskunde te bemeester en hoe om daarvoor te leer? 
  • jou kind, tot op hede, die nodige werk ingesit het om in Wiskunde te presteer. 
  • jou kind nie noodwendig te ''dom'' is nie, maar eerder te ''lui'' is om Wiskunde reg te benader? (Selfs die ''luiheid'' kan soms toegeskryf word aan die feit dat die leerder eintlik onkundig is oor hoe om Wiskunde aan te pak. Leerders wat snap hoe om Wiskunde te benader, geniet meestal sommer gou die vak en hul punte verbeter drasties!)


By Cum Laude Akademie Tuisskoolsentrum vir Graad 10-12 leerders in Centurion, weet ons presies wat nodig is om leerders die Wiskunde punte te laat behaal wat hulle graag wil hê.  Ons weet presies wat leerders moet doen om in die Wiskunde-eksamen goed te vaar. Ons leer elke leerder hierdie vaardighede aan, sodat hulle met vertroue kan doen wat nodig is om Wiskunde baas te raak!

So presies wanneer die Nasionale Senior Sertifikasie-regulasies aangepas sal word om Wiskunde vir Graad 10-12 leerders met die bogenoemde vakke verpligtend te maak, weet niemand tans nie. Een ding weet ons wel: Wiskunde is 'n belangrike vak wat vir sy leerders deure oopsluit wat daarsonder, of met slegs Wiskunde Geletterdheid, toegesluit sal bly.

Skakel eerder vroegtydig by Cum Laude Akademie in en leer hoe om Wiskunde aan te pak en baas te raak as om sommer uit die staanspoor uit die makliker uitweg te kies, wat mens dalk later duur te staan kan kom. 

-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.










Thursday, November 6, 2014

Kreatiewe Uitlewing 'n MOET vir Graad 10-12 Tuisskolers



Creativity is as important now in education as literacy and we should treat it with the same status.” ― Ken Robinson


Of tuisskolers kreatiwiteit meer belangrik ag as hoofstroomskole is sekerlik debatteerbaar, maar een ding is verseker: tuisskoolouers het groter beheer oor hul kind se kreatiewe stimulasie, aangesien hulle meer beheer oor die tuisskoler se dagprogram het. Dit is alombekend dat van die mees bekende kreatiewe uitvinders in die geskiedenis, ook tuisskolers was (bv. Thomas Edison, Alexander Graham Bell en Michael Faraday). As hulle ouers hul kreatiwiteit lewendig kon hou tydens tuisskoling, dan kan ons mos ook...

Tog is dit jammer om te sien dat sommige tuisskolers se kreatiewe blootstelling tot jonger grade beperk word. Talle hoërskool tuisskolers se kreatiewe aktiwiteite word gestaak sodra hul Graad 8 of 9 betree.  Die redes hiervoor is sekerlik uitgebreid, maar is onder andere dat: 
  • ouers en leerders dink dat kreatiwiteit by jonger kinders, wat nog tyd het om te speel, hoort, 
  • leerders as gevolg van groepsdruk reken dat dit nie "cool" is om nog bv. pottebakkersklas op 16 jarige ouderdom te neem nie!
Talle tuisskoolgroepe en tuisskoolsentrums poog wel om kreatiewe ontspanning vir tuisskolers te bied waar hul saam met ander tuisskolers kreatief kan wees en kan sosialiseer. Ongelukkig is dit weer eens die jonger tuisskolers wat gewillig aan hierdie gesellige groepsaktiwiteite deelneem. Meeste hoërskoolleerders vind nie dat hierdie samekomste geskik vir hulle ouderdom en belangstelling is nie en staan dan net verveeld rond of neem nie heelhartig aan die aktiwiteite deel nie.

Hoe kan ek my tuisskooltiener sy kreatiwiteit laat uitleef?

Kreatiewe uitlewing is nie alleen terapeuties nie, maar ook opvoedkundig en behoort dus beslis 'n integrale deel van elke senior tuisskoler se tuisskoolprogram te wees. Senior tuisskolers beleef soms erge akademiese druk as gevolg van die werkslas en het juis kreatiewe afleiding nodig! 

Jy kan jou senior tuisskoler 'n verskeidenheid aktiwiteite laat doen wat net 'n paar lesse behels en dan oor en verby is. Korter kursusse werk altyd goed, aangesien mens die kursus rondom die leerder se program kan beplan. So 'n kursus is gewoonlik kort en kragtig genoeg en verhoed dat die leerders se akademie daaronder ly of dat hul verveeld met die inhoud raak.

Die volgende kursusse is maklik bekombaar en werk uitstekend vir die senior tuisskoler:
  • Mosaiek kursus, 
  • Loodglaskursus, 
  • Koekversiering - seuns is mal daaroor! 
  • Houtwerk 
  • Webwerf ontwerp
  • Lintborduurwerkkursus
  • Naeltegnikus-kursus en ja, selfs seuns vaar ook uitstekend hiermee as hul daarvan hou om met hul hande te werk!
  • Fotografie
  • Ballroomdanskursus
Leerders wat hierdie tipe kursusse doen, ontwikkel nie net hul kreatiwiteit nie, maar leer so speel-speel vaardighede aan waarmee hul iets kan doen om 'n sakgeldjie te verdien. 

Graad 10-12 leerders wat by Cum Laude Akademie Tuiskoolsentrum inskakel word sterk aangemoedig om aan kreatiewe aktiwiteite in hul vrye tyd deel te neem. Ons poog om die leerder in totaliteit te ontwikkel sodat hul aan die einde van Graad 12 goed gebalanseerde, kerngesonde mense kan wees.    

*****
So of jou tuisskoler leer skilder, leer naaldwerk doen, leer swys of leer koekversiersier, die ontwikkeling en uitlewing van hul kreatiwiteit is net so belangrik soos om te leer lees en skryf. Kunsaktiwiteite is daarvoor bekend om leerders te laat ontspan, terwyl dit so stilletjies in die agtergrond akademiese ontwikkeling stimuleer.

Creativity is as important now in education as literacy and we should treat it with the same status.” ― Ken Robinson


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers woon daagliks die tuisskoolsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 10-11 leerders in 2015 is nou oop.