Saturday, November 29, 2014

Wat elke Graad 9 leerder moet weet en doen VOORDAT hulle Graad 10-12 vakke kies!


Elke mens behoort te droom oor 'n blink toekoms. Elkeen van ons beskik oor die potensiaal om suksesvol te wees. 


Beskik jong Graad 9 leerders oor die vermoë om te droom oor toekomstige sukses? Beskik hul oor die ervaring om vakkeuses uit te oefen wat hul toekomsplanne kan maak of breek?

In my ervaring met leerders, is daar maar net 'n handjievol wat oor sulke vermoëns beskik. In die meeste suksesvolle gevalle het ouers hul kinders gehelp om kennis oor loopbane en studierigtings in te win, sodat hulle ingeligte loopbaankeuses kon maak.

Hoe dit ookal sy, of jou kind nou 'n advokaat, onderwyser, loodgieter of aktuaris wil word, hul moet reeds in Graad 9 die regte vakke kies om daardie droom te bewaarheid. Ons as ouers behoort ons kinders in hierdie proses te ondersteun met alles wat in ons is!

Daar is diegene wat gelukkig genoeg is om hul kinders na skool na ‘n Kollege of Universiteit toe te stuur vir verdere opleiding en vir sulke studente is die kanse om hul talente en belangstellings in 'n goeie beroep uit te leef baie groot, maar as hul nie reeds in Graad 9 die regte vakke vir Graad 10-12 gekies het nie, kan dit die hele appelkar vol toekomsdrome omgooi.


Waar begin mens?

Daar is soveel studie- en beroepsgeleenthede beskikbaar. Dit is nogal oorweldigend om een studierigting uit die massa en massas moontlikhede te kies. Om die beste keuses te maak, behoort ons lank voor Graad 9 al met ons huiswerk te begin om so die kinders se visie en horisonne te verbreed! As jy graag jou kind hiermee wil help, kan jy dalk volgende raad te volg:

  • Stel voor dat jou kind met jou, hul maats en die Lewensoriënteringsonderwyser oor hul toekomsplanne gesels.
  • Woon saam met jou kind loopbaanuitstallings by, besoek relevante stalletjies en vind uit oor die toelatingsvereistes.
  • Besoek 'n werkplek en gesels met mense wat in daardie beroepsveld werk. 
  • Gesels met studente wat reeds in daardie rigting studeer. 
  • Kontak universiteite en vra uit oor hul toelatingsvereistes en vra hul prospektus met kursusse aan. 
  • Doen deeglike internetnavorsing oor die rigting wat jou kind oorweeg.
  • Laat jou kind deur 'n Beroepsielkundige evalueer. 

Om hierdie tipe navorsing eers in Graad 11 en 12 te begin doen, is eintlik te laat. Meeste universiteite aanvaar nuwe kandidate op grond van hul Graad 11 prestasies en as jou kind dus nie van Graad 9 af weet hoe belangrik moontlike spesifieke vakprestasie vir sekere studierigtings is nie, mag hulle dalk die fout maak om nie hard genoeg in Graad 9-11 te studeer nie, swak punte in die vakke behaal en dan nie aan al die toelatingsvereistes vir die gekose studierigting voldoen nie. 

Hoe om die regte vakke te kies 

Die skoolvakke wat jou kind vir Graad 10 tot 12 kies, bepaal vir watter universiteitstudieprogramme hul sal kan aansoek doen. Jou kind se skoolvakke en die vakprestasies moet ooreenstem met die toelatingsvereistes van die instansies waar hul wil studeer en met die studierigtings wat hulle kies.  

Jy en jou kind kan hierdie raad volg om aan die einde van Graad 9 die regte vakke te kies: 

  • Vind uit waarin jou kind uitblink: Dit help wanneer jy weet wat jou kind se sterkpunte is. Maak ’n lys van elke vak en vra of hulle dit geniet, goed daarin vaar, of dit hul leerstyl pas en of dit hulle in die toekoms gaan help. 
  • Kry deurlopende ekstra klasse in probleemvakke: Omdat jou kind se Wiskunde- of Wetenskappunte swak is, beteken nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie. Die probleem kan eerder by gebrek aan studievaardighede of gebrek aan genoeg kennis lê, wat maklik aangespreek kan word en die probleem kan oplos. 
  • Moenie onder groepsdruk swig nie: Jou kind kan in die versoeking kom om ’n vak te kies net omdat hul vriende dit kies. Dit kan hul moontlik duur te staan kom as dit nie die regte keuse vir hul eie toekoms is nie.  
  • Beplan vooruit: Graad 9  leerders is nog jonk en om sulke groot besluite te neem op daardie ouderdom is nie maklik nie. Soos wat hul ouer word ontdek hul dalk ander interessante loopbane om van te kies. Deur vakke te kies wat ’n wye speling bied is dus wys. Met wye speling vakke is hul keuses vir verdere opleiding of toekomstige werkgewers nie beperkend nie. Deur by die meer algemene vakke te bly wat enige deur vir hulle kan oopsluit in die toekoms, is dus wys indien jou kind nog nie 'n vaste loopbaanbesluit geneem het nie. Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Geografie, Besigheidstudies, Ekonomie is van die vakke wat meer algemeen is en baie deure kan oopsluit. 

Wat van die gevreesde Wiskunde?

Met die instelling van Wiskunde Geletterdheid as ’n alternatief vir Wiskunde, is die versoeking om die makliker uitweg te kies, yslik groot! 

Dit is baie belangrik om jou kind te begelei en te ondersteun om goed na te dink oor watter een van die twee jou kind sal bevoordeel in die toekoms.

Talle naskoolse studierigtings verg Wiskunde as toelatingsvereiste alhoewel Wiskunde Geletterdheid in ander gevalle ook aanvaarbaar is. Maak baie seker watter een van die twee die voorgenome studierigting vereis. 

As jou kind tans swak in Wiskunde presteer en dus nie van die vak hou nie, beteken dit nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie! Dit kan bloot beteken dat:
  • jou kind dalk nie genoeg Wiskunde oefen nie, 
  • dalk nie regtig die begrippe in die klas verstaan het nie 
  • of selfs nie weet hoe om vir Wiskunde te leer nie. 
As daar gebrekkige begrip van moeilike konsepte is, kan 'n ekstra Wiskunde- klasse die probleem gou oplos!

Mens moet regtig daarteen waak om nie 'n leerder se toekomsmoontlikhede te beperk omdat die wortel van die leerder se Wiskunde probleem nie gesoek en opgeklaar is nie. Deur die kind te leer hoe om hierdie uitdaging te oorkom en toe te rus met die nodige kennis, kan hul dalk die Wiskunde- monster  oorwin en hul toekomsmoontlikhede verbreed. 

Wiskunde Geletterdheid het beslis sy plek! Daar is leerders wat nie nodig het om die moeilike Wiskundige begrippe te verstaan of wat nie oor die kognitiewe vermoë beskik om Wiskunde te bemeester nie. Vir diegene is Wiskunde Geletterdheid 'n uitkoms.

'n Bekende professor het egter iewers opgemerk dat Wiskunde Geletterdheid ’net deur die gemiddelde en selfs slim kinders gekies word as hul 'n maklike uitweg soek. Hy meen dat die vak net kortstondige verligting bring, maar dat dit kinders kniehalter wanneer dit by verdere opleiding na skool kom.

Hoekom is Wiskunde belangrik?


  • Dit verbeter jou kind se logiese en kritiese denke
  • Dit kweek deursettingsvermoë 
  • Dit ontwikkel probleemoplossingsvaardighede
  • Dit bou jou kind se karakter
  • Dit vergemaklik tersiêre studie al is dit harde werk om die vak werklik te bemeester
  • Wiskunde maak open deure wat tot ’n verskeidenheid van studierigtings en loopbane lei.

Begin reeds vroegtydig om met jou kind oor moontlike vakkeuses te praat sodat julle genoeg tyd het om daaroor te dink en die nodige navorsing te kan doen. 

Vir die van julle wat klaar in Graad 10 en 11 is, is daar steeds hoop as jul nog gou van vak in die nuwe jaar wil verander. Die eksamenrade skep vir leerders die geleentheid om vroeg in die jaar vakveranderings te doen. Begin net dadelik daaroor dink! Dit sou nie raadsaam wees om eers in Graad 12 vakke te verander nie, aangesien die akademiese jaar veels te kort is en jou kind nie genoeg tyd sal hê om die vak voor die eindeksamen te bemeester nie, 

Cum Laude Akademie in Centurion help Graad 10-12 tuisleerders om saam met die ouers en leerders, die regte vakkeuses uit te oefen. Ons tuisonderrigesentrum ontwikkel leerders as 'n geheel en maak van hulle wenners, as hulle die raad wat ons gee volg en hul deel heelhartig doen.

Vir verdere raad oor Graad 9-12 vakkeuses, kontak ons gerus. Ons help graag. 


-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.