Thursday, March 26, 2015

Help! My kind het Kwartaal 1 van Graad 9, 10, 11 of 12 gedruip!

Beteken 'n  druip dat my kind se akademiese toekoms bleek is? 



Beslis nie!  Talle leerders druip soms 'n kwartaal, maar slaag wel aan die einde van die jaar. Daar is op hierdie stadium nog baie wat mens aan die saak kan doen. Dit is beslis nie 'n aanduiding dat die leerder se akademiese bootjie beslis gaan sink nie.

'n Eerste - kwartaal- druipeling moet wel besef dat daar 'n helderrooi, akademiese gevaarlig in die verte brand waaraan dadelik aandag gegee MOET word, as hul hul akademiese bootjie in 'n ander rigting wil stuur...

Daar is verskeie redes waarom leerders hul eerste kwartaal druip:

  • die aanpassing tussen die vorige graad na die huidige een kan moontlik te groot wees 
  • die leerder pas dalk nie sosiaal aan nie en loop deur onder kompeterende maats wat reken dat die leerder lui is
  • die leerder weet dalk nie hoe om doelwitte te stel nie
  • die leerder het dalk nie genoeg studeer nie
  • die leerder het moontlik verkeerde vriende
  • die leerder raak miskien verlore in die groot klasse en die onderwyser kom nie agter dat die leerder nie op datum is nie en bo alles: 
  • die vorige grade se fondasie is moontlik nie goed vasgelê nie
  • (om maar net 'n paar te noem)

Vorige grade se fondasie nie reg vir Grade 9-12 gelê nie

Dit is nou maar eenmaal so dat Graad 9-12 se werk stelselmatig op mekaar volg en bou en nie van mekaar losgemaak kan word nie. 


Soos die skakels in 'n ketting, sluit die een stuk kennis by die volgende stuk kennis aan. As dele daarvan nie bemeester is nie, manifesteer die leemte later iewers in hul akademiese resultate. 


Dit gebeur dikwels dat leerders nie 'n kwartaal slaag nie, omdat daar nie in Graad 9-12 tyd is om ou werk weer in diepte deur te werk voordat nuwe konsepte oorgedra word nie. 

Om jou kind se akademie soos 'n goed ge-oliede fietsketting te laat draai, behoort hul na daardie leemtes in hul fondasie gaan soek en dit so gou moontlik regstel.

Hoe spreek mens hierdie leemtes aan?

Ekstra klasse is maar altyd 'n goeie opsie vir leerders wat uitvalle toon. In ernstige gevalle word aanbeveel dat leerders selfs in vakansietye die ekstraklasse bywoon, aangesien daar in vakansies nie ander werksdruk is waaraan aandag gegee moet word nie. 

Werk naweke en vakansies: Naweke en vakansies is wonderlike tye om agterstande in te haal. 

Ekstra oefening verrig ook wonders! Leerders wat met konsepte sukkel moet ekstra werk doen wat nie noodwendig deur die onderwyser uitgedeel word nie, 

Ou vraestelle is die antwoord! Leerders moet vertroud wees met die manier wat die werk eksamineer word. As 'n leerder weet hoe die werk getoets word, sal die leerder weet hoe om daarvoor te leer.

Hoe verhoed ek dat daar leemtes in my kind se akademiese mondering ontstaan?

  • Kontroleer gereeld jou kind se werk self
  • Help jou kind om 'n studierooster op te stel en daarby te hou
  • Vergewis jou met die inhoud van jou kind se werk
  • Begelei jou kind om te identifiseer watter werk belangrik blyk te wees en watter slegs as agtergrondskennis dien
  • Kontroleer jou kind se opsommings weekliks
  • OEFEN! OEFEN! OEFEN! Wiskunde oor en oor...

Cum Laude Akademie beveel tuisskoolouers aan om hul tuisskolers reeds vanaf Graad 9 by Cum Laude Akademie in te skryf, sodat die grondslagwerk vir die Graad 10-12 fase gedoen kan word. Dit is al bewys dat leerders baie baat by die begeleiding wat Cum Laude Akademie in Graad 9 verskaf en dat dit leerders baie goed vir die uitdagende VOO-fase toerus.

Tuisskool- ouers moet kennis neem dat dit hul eie verantwoordelikheid is om hul kinders by die Departement van Basiese Onderwys as tuisskoler te registreer indien hul nog skoolpligtig is.    

****

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion vir Graad 9--12 tuisskolers. Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.

Friday, February 6, 2015

VOO - Volwasseleer- Mens is nooit te oud om te leer nie!


  • Kinders uit die huis en wil jy leë-nes-sindroom hokslaan?
  • Sit jy vas op 'n vlak in jou werk waardeur jy nie kan breek nie, omdat jy nie Graad 12 het nie?
  • Het jy al horde kursusse agter jou naam wat jou niks baat nie, aangesien jy nie 'n Graad 12 sertifikaat het nie?
  • Het jou lewe dalk 'n wilde, hartseerdraai geneem wat jou van jou Graad 12 sertifikaat ontneem het?
  • Begeer jy op jou ''oudag'' 'n tweede akademiese kans?


Breek los uit die gevangenis van beperkings! 

Mens is nooit te oud om Graad 12 aan te pak nie...



Graad 12 is nou maar eenmaal die sleutel tot 'n blink toekoms...

Cum Laude Akademie bied afstandsonderrigsopsies aan mense van 16-160 jaar om hul Graad 10-12 Verdere Onderwys Opleiding kwalifikasie met universiteitsvrystelling te behaal.

Sluit aan by die reeks volwassenes wie reeds ingeskakel is en  die opwindende reis na hul Graad 12 sertifikaat aangepak het. 

Verskillende opsies is vir volwasseleer beskikbaar: 

  • Herhaal net die vak(ke) wat jy gedruip of swak in gevaar het
  • Herhaal die hele Graad 12 jaar as jy al jou punte wil verbeter of nie matriek geslaag het nie
  • Skryf in vir Graad 10-12 as jy Graad 9 voor 2007 voltooi het.

Hoewel die bogenoemde opsies elkeen sy departementele voorwaardes het, is dit nou meer moontlik as ooit om hierdie droom van jou te verwesenlik en jouself te kwalifiseer.

Skaar jouself saam met die groeiende getal mense wat die geleentheid aangryp om 'n beter lewe vir hulself uit te kerf en so die verlede agter te laat.

Afstandsonderwys bemagtig jou, om terwyl jy werk, jou kwalifikasie te bekom. 

Kontak Cum Laude Akademie vandag om jou VOO (FET)  Volwasseleer akademiese doelwitte te bespreek.

Studeer, Presteer, Floreer! ©

 



-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers volg die KABV sillabus. Cum Laude Akademie word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die uiteindelike vakprestasies dit toelaat. 


Registrasies vir Graad 10-11 leerders in 2015 is nog oop. Bespreek vroegtydig vir 2016!



Om meer uit te vind oor Cum Laude Akademie se registrasies, besoek ons gerus ons webwerf: http://cumlaudeakademie.co.za 




Saturday, January 3, 2015

Help, my Graad 9-12 kind het gedruip!

Met die bekendmaking van 2014 se eerste groep NSS matriekuitslae op 31 Desember 2014, het dit bekend geword dat 'n handjievol tuisskolers die NSS eksamen met onderskeiding geslaag het! Geluk aan diegene vir dinge in 2014 so goed uitgewerk het! 

Die prentjie is ongelukkig nie so rooskleurig vir almal nie... Tientalle matrikulante se uitslae word tot op hede deur die eksamenowerheid teruggehou, aangesien hulle nie aan die voorgeskrewe vereistes vir Graad 9-12 voldoen het nie. Dan is daar ook nog diegene wat ongelukkig gedruip het en hul matriekjaar sal moet herhaal...


Nie slegs matrikulante het swak presteer nie

Dis jammer om te sê dat die situasie nie slegs matrikulante raak nie. 'n Groot aantal Graad 9-11 leerders het ook nie hul jaar geslaag nie en wonder nou aan die begin van die nuwe skooljaar waarheen om hulle te wend: sal hulle teruggaan skool toe, moet hulle na een of ander kollege toe of kan hulle dalk tuisskool...

Vir my is dit eenvoudig: waarom terugkeer na die plek waar jou kind reeds bewys het dat hy nie daar akademies kon floreer nie?  Nee wat, maak die skuif na groener weivelde, waar jou kind 'n beter begin kan maak.



Jou kind hoef nie 'n slagoffer te wees nie!

Daar is sekerlik 'n legio redes waarom jou kind in die afgelope jaar dalk nie so wonderlik gevaar het nie: 

  • dalk weet jou kind nie hoe om te leer nie, 
  • dalk was jou kind net te lui om te leer,
  • dalk was jou kind ongelukkig in hul skoolomgewing 
  • dalk was jou kind se onderwyser swak
  • dalk het jou kind te sosiaal verkeer 
  • dalk weet jou kind nie hoe om hul tyd te bestuur nie, 
  • dalk het jou kind nie aan die assesseringsvereistes voldoen nie 

As jou kind onder die ongelukkiges tel wat 'n jaar in die Graad 9-12 fase moet herhaal, vir watter rede ookal, is dit wys om hul vanaf 2015 by 'n akademiese sentrum soos Cum Laude Akademie in te skakel. 

Uitstekende onderrig + Volledige kommunikasie + Persoonlike aandag 

= Goeie akademiese prestasie!


Cum Laude Akademie is 'n SACAI-geregistreerde tuisskooldiensverskaffer. Ons bied Graad 9-12 tuisonderrigopsies aan privaatleerders wat die oorvol klasse van hoofstroomskole wil ontsnap en self verantwoordelikheid vir hul akademiese toekoms aanvaar. 


  • Tuisonderrig
    Vir diegene wat tuis wil studeer is Cum Laude Akademie beslis die antwoord. Ons tuisleerders bly op hoogte van sake en voel nooit verlate en vergete nie. Herhalers wat die studiejaar moet herhaal kan met behulp van Cum Laude Akademie se gereelde kommunikasie, direkte begeleiding en persoonlike betrokkenheid by elke tuisleerder, die keer die paal haal! 

  • Sentrumleer
    Vir diegene wat Graad 9-12 moet herhaal maar graag nuwe maats wil maak, bied Cum Laude Akademie daaglikse bystand by ons kampus in Eldoraigne, Centurion aan.  Tuisskolers wat daagliks die Cum Laude Akademie-kampus bywoon, ontvang een-tot-een persoonlike begeleiding en individuele afronding. Gesonde vriendskappe en selfs goeie, opbouende kompetisie, spoor leerders tot hoër hoogtes aan.

By Cum Laude Akademie: 

  • Begelei ons leerders en ouers om seepglad deur die Graad 9 -12- fase te seil
  • Berei ons Graad 9-12 leerders spesifiek vir die NSS-eksamen voor
  • Ons rond leerders af vir naskoolse studie en vir die lewe - ons kweek wenners!


                  Cum Laude Akademie is eenvoudig in 'n ander klas! 


Dit is van UITERSTE belang om u kind, wat Graad 9-12 moet herhaal, by 'n effektiewe, verantwoordelike akademiese sentrum, soos Cum Laude Akademie, in te skryf.  Jou kind het nou die beste begeleiding nodig om te verseker dat hulle die hindernis kan oorkom en die verleentheid kan omskakel in 'n geleentheid!   

Studeer, Presteer, Floreer!© 


As jy dus gerustheid oor jou kind se akademiese vordering begeer, 'n diensverskaffer wil inspan wat voortreflikheid nastreef, by 'n akademiese sentrum wil inskakel wat sal verseker dat jou kind se uitslae vrygestel word en wat jou kind die beste kans op akademiese sukses gee, is Cum Laude Akademie die antwoord!


Kontak Cum Laude Akademie vandag om jou kind se plek te verseker! 



-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.


Om meer uit te vind oor Cum Laude Akademie se registrasies, besoek ons gerus ons webwerf: http://cumlaudeakademie.co.za 





Saturday, November 29, 2014

Wat elke Graad 9 leerder moet weet en doen VOORDAT hulle Graad 10-12 vakke kies!


Elke mens behoort te droom oor 'n blink toekoms. Elkeen van ons beskik oor die potensiaal om suksesvol te wees. 


Beskik jong Graad 9 leerders oor die vermoë om te droom oor toekomstige sukses? Beskik hul oor die ervaring om vakkeuses uit te oefen wat hul toekomsplanne kan maak of breek?

In my ervaring met leerders, is daar maar net 'n handjievol wat oor sulke vermoëns beskik. In die meeste suksesvolle gevalle het ouers hul kinders gehelp om kennis oor loopbane en studierigtings in te win, sodat hulle ingeligte loopbaankeuses kon maak.

Hoe dit ookal sy, of jou kind nou 'n advokaat, onderwyser, loodgieter of aktuaris wil word, hul moet reeds in Graad 9 die regte vakke kies om daardie droom te bewaarheid. Ons as ouers behoort ons kinders in hierdie proses te ondersteun met alles wat in ons is!

Daar is diegene wat gelukkig genoeg is om hul kinders na skool na ‘n Kollege of Universiteit toe te stuur vir verdere opleiding en vir sulke studente is die kanse om hul talente en belangstellings in 'n goeie beroep uit te leef baie groot, maar as hul nie reeds in Graad 9 die regte vakke vir Graad 10-12 gekies het nie, kan dit die hele appelkar vol toekomsdrome omgooi.


Waar begin mens?

Daar is soveel studie- en beroepsgeleenthede beskikbaar. Dit is nogal oorweldigend om een studierigting uit die massa en massas moontlikhede te kies. Om die beste keuses te maak, behoort ons lank voor Graad 9 al met ons huiswerk te begin om so die kinders se visie en horisonne te verbreed! As jy graag jou kind hiermee wil help, kan jy dalk volgende raad te volg:

  • Stel voor dat jou kind met jou, hul maats en die Lewensoriënteringsonderwyser oor hul toekomsplanne gesels.
  • Woon saam met jou kind loopbaanuitstallings by, besoek relevante stalletjies en vind uit oor die toelatingsvereistes.
  • Besoek 'n werkplek en gesels met mense wat in daardie beroepsveld werk. 
  • Gesels met studente wat reeds in daardie rigting studeer. 
  • Kontak universiteite en vra uit oor hul toelatingsvereistes en vra hul prospektus met kursusse aan. 
  • Doen deeglike internetnavorsing oor die rigting wat jou kind oorweeg.
  • Laat jou kind deur 'n Beroepsielkundige evalueer. 

Om hierdie tipe navorsing eers in Graad 11 en 12 te begin doen, is eintlik te laat. Meeste universiteite aanvaar nuwe kandidate op grond van hul Graad 11 prestasies en as jou kind dus nie van Graad 9 af weet hoe belangrik moontlike spesifieke vakprestasie vir sekere studierigtings is nie, mag hulle dalk die fout maak om nie hard genoeg in Graad 9-11 te studeer nie, swak punte in die vakke behaal en dan nie aan al die toelatingsvereistes vir die gekose studierigting voldoen nie. 

Hoe om die regte vakke te kies 

Die skoolvakke wat jou kind vir Graad 10 tot 12 kies, bepaal vir watter universiteitstudieprogramme hul sal kan aansoek doen. Jou kind se skoolvakke en die vakprestasies moet ooreenstem met die toelatingsvereistes van die instansies waar hul wil studeer en met die studierigtings wat hulle kies.  

Jy en jou kind kan hierdie raad volg om aan die einde van Graad 9 die regte vakke te kies: 

  • Vind uit waarin jou kind uitblink: Dit help wanneer jy weet wat jou kind se sterkpunte is. Maak ’n lys van elke vak en vra of hulle dit geniet, goed daarin vaar, of dit hul leerstyl pas en of dit hulle in die toekoms gaan help. 
  • Kry deurlopende ekstra klasse in probleemvakke: Omdat jou kind se Wiskunde- of Wetenskappunte swak is, beteken nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie. Die probleem kan eerder by gebrek aan studievaardighede of gebrek aan genoeg kennis lê, wat maklik aangespreek kan word en die probleem kan oplos. 
  • Moenie onder groepsdruk swig nie: Jou kind kan in die versoeking kom om ’n vak te kies net omdat hul vriende dit kies. Dit kan hul moontlik duur te staan kom as dit nie die regte keuse vir hul eie toekoms is nie.  
  • Beplan vooruit: Graad 9  leerders is nog jonk en om sulke groot besluite te neem op daardie ouderdom is nie maklik nie. Soos wat hul ouer word ontdek hul dalk ander interessante loopbane om van te kies. Deur vakke te kies wat ’n wye speling bied is dus wys. Met wye speling vakke is hul keuses vir verdere opleiding of toekomstige werkgewers nie beperkend nie. Deur by die meer algemene vakke te bly wat enige deur vir hulle kan oopsluit in die toekoms, is dus wys indien jou kind nog nie 'n vaste loopbaanbesluit geneem het nie. Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Geografie, Besigheidstudies, Ekonomie is van die vakke wat meer algemeen is en baie deure kan oopsluit. 

Wat van die gevreesde Wiskunde?

Met die instelling van Wiskunde Geletterdheid as ’n alternatief vir Wiskunde, is die versoeking om die makliker uitweg te kies, yslik groot! 

Dit is baie belangrik om jou kind te begelei en te ondersteun om goed na te dink oor watter een van die twee jou kind sal bevoordeel in die toekoms.

Talle naskoolse studierigtings verg Wiskunde as toelatingsvereiste alhoewel Wiskunde Geletterdheid in ander gevalle ook aanvaarbaar is. Maak baie seker watter een van die twee die voorgenome studierigting vereis. 

As jou kind tans swak in Wiskunde presteer en dus nie van die vak hou nie, beteken dit nie noodwendig dat hul nie Wiskundig aangelê is nie! Dit kan bloot beteken dat:
  • jou kind dalk nie genoeg Wiskunde oefen nie, 
  • dalk nie regtig die begrippe in die klas verstaan het nie 
  • of selfs nie weet hoe om vir Wiskunde te leer nie. 
As daar gebrekkige begrip van moeilike konsepte is, kan 'n ekstra Wiskunde- klasse die probleem gou oplos!

Mens moet regtig daarteen waak om nie 'n leerder se toekomsmoontlikhede te beperk omdat die wortel van die leerder se Wiskunde probleem nie gesoek en opgeklaar is nie. Deur die kind te leer hoe om hierdie uitdaging te oorkom en toe te rus met die nodige kennis, kan hul dalk die Wiskunde- monster  oorwin en hul toekomsmoontlikhede verbreed. 

Wiskunde Geletterdheid het beslis sy plek! Daar is leerders wat nie nodig het om die moeilike Wiskundige begrippe te verstaan of wat nie oor die kognitiewe vermoë beskik om Wiskunde te bemeester nie. Vir diegene is Wiskunde Geletterdheid 'n uitkoms.

'n Bekende professor het egter iewers opgemerk dat Wiskunde Geletterdheid ’net deur die gemiddelde en selfs slim kinders gekies word as hul 'n maklike uitweg soek. Hy meen dat die vak net kortstondige verligting bring, maar dat dit kinders kniehalter wanneer dit by verdere opleiding na skool kom.

Hoekom is Wiskunde belangrik?


  • Dit verbeter jou kind se logiese en kritiese denke
  • Dit kweek deursettingsvermoë 
  • Dit ontwikkel probleemoplossingsvaardighede
  • Dit bou jou kind se karakter
  • Dit vergemaklik tersiêre studie al is dit harde werk om die vak werklik te bemeester
  • Wiskunde maak open deure wat tot ’n verskeidenheid van studierigtings en loopbane lei.

Begin reeds vroegtydig om met jou kind oor moontlike vakkeuses te praat sodat julle genoeg tyd het om daaroor te dink en die nodige navorsing te kan doen. 

Vir die van julle wat klaar in Graad 10 en 11 is, is daar steeds hoop as jul nog gou van vak in die nuwe jaar wil verander. Die eksamenrade skep vir leerders die geleentheid om vroeg in die jaar vakveranderings te doen. Begin net dadelik daaroor dink! Dit sou nie raadsaam wees om eers in Graad 12 vakke te verander nie, aangesien die akademiese jaar veels te kort is en jou kind nie genoeg tyd sal hê om die vak voor die eindeksamen te bemeester nie, 

Cum Laude Akademie in Centurion help Graad 10-12 tuisleerders om saam met die ouers en leerders, die regte vakkeuses uit te oefen. Ons tuisonderrigesentrum ontwikkel leerders as 'n geheel en maak van hulle wenners, as hulle die raad wat ons gee volg en hul deel heelhartig doen.

Vir verdere raad oor Graad 9-12 vakkeuses, kontak ons gerus. Ons help graag. 


-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.











Friday, November 21, 2014

Nuwe Wiskunde Regulasie Wink Op Die Horison


Voornemende Graad 10 leerders moet kennis neem van die volgende aangaande Wiskunde Graad 10-12. 


Alle aanduidings is daar dat die Nasionale Senior Sertifikasie-regulasies eersdaags aangepas sal word om Wiskunde vir Graad 10-12 leerders, wat die volgende vakke neem, verpligtend te maak : 
  • Fisiese Wetenskappe, 
  • IT, 
  • Lewenswetenskappe, 
  • Rekeningkunde, 
  • Ekonomie,
  • Geografie en 
  • Geskiedenis
Te veel leerders kies om die minder uitdagende Wiskundige Geletterdheid te neem, terwyl vakke soos hierbo genoem, soms ingewikkelde Wiskundige berekenings verlang wat nie in die Wiskundige Geletterdheidsillabus aangespreek word nie. Wiskunde is eenvoudig die sleutel tot baie meer deure as Wiskunde Geletterdheid! Al behaal jou kind eendag net 40% vir Wiskunde in Graad 12, het hul steeds Wiskunde as vak op hul sertifikaat met baie meer opsies vir toekomstige studie!

Dit is dus nie raadsaam vir nuwe Gr 10-leerders om sommer uit die staanspoor Wiskundige Geletterdheid as vak te kies as hul enige van die ander genoemde keusevakke wil neem nie! 

Daar is nog nie duidelikheid wanneer die nuwe regulasie ingestel gaan word nie. Dit blyk nie asof dit vir 2015 beplan word nie, maar leerders word aangeraai om eerder nou reeds reg te kies, sodat hulle nie dalk later deur die regulasie geraak sal word nie.


Watter studierigtings verlang Wiskunde as vak?


Wiskunde, en nié Wiskundige Geletterdheid nie, is ‘n vereiste vir universiteitstudies in die volgende velde:
  • Aptekerswese
  • Argitektuur
  • Besigheids- en finansiële studies
  • Biochemie
  • Biomediese Tegnologie
  • Chemie
  • Fisika
  • Ingenieurswese (insluitende siviel, elektries,bedryfs, meganies en megatronika)
  • Konstruksiestudies en Konstruksie-ekonomie (die boubedryf)
  • Mikrobiologie
  • Natuur- en fisiese wetenskappe (BSc programme)
  • Onderwys (vir voornemende Wiskunde-, FisieseWetenskappe- en Rekeningkunde-onderwysers)
  • Polimeertegnologie (rubber-, plastiek- en verftegnologie)
  • Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels
  • Rekeningkunde
  • Wiskunde en Wiskundige Statistiek

Maar my kind se Wiskunde is swak! 


Jy dink dalk jou tiener se Wiskunde is swak. Jou kind voel dalk hul het die stryd teen Wiskunde verloor en dat Wiskundige Geletterdheid die enigste antwoord is. 

Wees verseker, jy en jou kind is nie die enigstes wat so voel nie! Meeste Graad 10-12 leerders voel ongelukkig so!

Leerders wat so ''verlore'' voel, glo meestal dat hul nie ''slim'' genoeg is om Wiskundige konsepte te verstaan nie. Hul voel en glo gewoonlik dat dit nie saakmaak hoe hard hulle leer nie, Wiskunde bly maar Grieks...
Ons almal weet dat jou kind beslis nie te ''dom'' vir Wiskunde is nie! Die enigste verskil tussen jou Graad 10-12 leerder en 'n leerder wat 80+%  vir Wiskunde kry, is die AKSIES wat hulle daagliks neem... 

As jou kind tans nie goed in Wiskunde vaar nie en daarom Wiskundige Geletterdheid vanaf Graad 10 wil neem, moet jy eers probeer bepaal of:

  • jou kind regtig weet hoe om Wiskunde te bemeester en hoe om daarvoor te leer? 
  • jou kind, tot op hede, die nodige werk ingesit het om in Wiskunde te presteer. 
  • jou kind nie noodwendig te ''dom'' is nie, maar eerder te ''lui'' is om Wiskunde reg te benader? (Selfs die ''luiheid'' kan soms toegeskryf word aan die feit dat die leerder eintlik onkundig is oor hoe om Wiskunde aan te pak. Leerders wat snap hoe om Wiskunde te benader, geniet meestal sommer gou die vak en hul punte verbeter drasties!)


By Cum Laude Akademie Tuisskoolsentrum vir Graad 10-12 leerders in Centurion, weet ons presies wat nodig is om leerders die Wiskunde punte te laat behaal wat hulle graag wil hê.  Ons weet presies wat leerders moet doen om in die Wiskunde-eksamen goed te vaar. Ons leer elke leerder hierdie vaardighede aan, sodat hulle met vertroue kan doen wat nodig is om Wiskunde baas te raak!

So presies wanneer die Nasionale Senior Sertifikasie-regulasies aangepas sal word om Wiskunde vir Graad 10-12 leerders met die bogenoemde vakke verpligtend te maak, weet niemand tans nie. Een ding weet ons wel: Wiskunde is 'n belangrike vak wat vir sy leerders deure oopsluit wat daarsonder, of met slegs Wiskunde Geletterdheid, toegesluit sal bly.

Skakel eerder vroegtydig by Cum Laude Akademie in en leer hoe om Wiskunde aan te pak en baas te raak as om sommer uit die staanspoor uit die makliker uitweg te kies, wat mens dalk later duur te staan kan kom. 

-------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.










Thursday, November 6, 2014

Kreatiewe Uitlewing 'n MOET vir Graad 10-12 Tuisskolers



Creativity is as important now in education as literacy and we should treat it with the same status.” ― Ken Robinson


Of tuisskolers kreatiwiteit meer belangrik ag as hoofstroomskole is sekerlik debatteerbaar, maar een ding is verseker: tuisskoolouers het groter beheer oor hul kind se kreatiewe stimulasie, aangesien hulle meer beheer oor die tuisskoler se dagprogram het. Dit is alombekend dat van die mees bekende kreatiewe uitvinders in die geskiedenis, ook tuisskolers was (bv. Thomas Edison, Alexander Graham Bell en Michael Faraday). As hulle ouers hul kreatiwiteit lewendig kon hou tydens tuisskoling, dan kan ons mos ook...

Tog is dit jammer om te sien dat sommige tuisskolers se kreatiewe blootstelling tot jonger grade beperk word. Talle hoërskool tuisskolers se kreatiewe aktiwiteite word gestaak sodra hul Graad 8 of 9 betree.  Die redes hiervoor is sekerlik uitgebreid, maar is onder andere dat: 
  • ouers en leerders dink dat kreatiwiteit by jonger kinders, wat nog tyd het om te speel, hoort, 
  • leerders as gevolg van groepsdruk reken dat dit nie "cool" is om nog bv. pottebakkersklas op 16 jarige ouderdom te neem nie!
Talle tuisskoolgroepe en tuisskoolsentrums poog wel om kreatiewe ontspanning vir tuisskolers te bied waar hul saam met ander tuisskolers kreatief kan wees en kan sosialiseer. Ongelukkig is dit weer eens die jonger tuisskolers wat gewillig aan hierdie gesellige groepsaktiwiteite deelneem. Meeste hoërskoolleerders vind nie dat hierdie samekomste geskik vir hulle ouderdom en belangstelling is nie en staan dan net verveeld rond of neem nie heelhartig aan die aktiwiteite deel nie.

Hoe kan ek my tuisskooltiener sy kreatiwiteit laat uitleef?

Kreatiewe uitlewing is nie alleen terapeuties nie, maar ook opvoedkundig en behoort dus beslis 'n integrale deel van elke senior tuisskoler se tuisskoolprogram te wees. Senior tuisskolers beleef soms erge akademiese druk as gevolg van die werkslas en het juis kreatiewe afleiding nodig! 

Jy kan jou senior tuisskoler 'n verskeidenheid aktiwiteite laat doen wat net 'n paar lesse behels en dan oor en verby is. Korter kursusse werk altyd goed, aangesien mens die kursus rondom die leerder se program kan beplan. So 'n kursus is gewoonlik kort en kragtig genoeg en verhoed dat die leerders se akademie daaronder ly of dat hul verveeld met die inhoud raak.

Die volgende kursusse is maklik bekombaar en werk uitstekend vir die senior tuisskoler:
  • Mosaiek kursus, 
  • Loodglaskursus, 
  • Koekversiering - seuns is mal daaroor! 
  • Houtwerk 
  • Webwerf ontwerp
  • Lintborduurwerkkursus
  • Naeltegnikus-kursus en ja, selfs seuns vaar ook uitstekend hiermee as hul daarvan hou om met hul hande te werk!
  • Fotografie
  • Ballroomdanskursus
Leerders wat hierdie tipe kursusse doen, ontwikkel nie net hul kreatiwiteit nie, maar leer so speel-speel vaardighede aan waarmee hul iets kan doen om 'n sakgeldjie te verdien. 

Graad 10-12 leerders wat by Cum Laude Akademie Tuiskoolsentrum inskakel word sterk aangemoedig om aan kreatiewe aktiwiteite in hul vrye tyd deel te neem. Ons poog om die leerder in totaliteit te ontwikkel sodat hul aan die einde van Graad 12 goed gebalanseerde, kerngesonde mense kan wees.    

*****
So of jou tuisskoler leer skilder, leer naaldwerk doen, leer swys of leer koekversiersier, die ontwikkeling en uitlewing van hul kreatiwiteit is net so belangrik soos om te leer lees en skryf. Kunsaktiwiteite is daarvoor bekend om leerders te laat ontspan, terwyl dit so stilletjies in die agtergrond akademiese ontwikkeling stimuleer.

Creativity is as important now in education as literacy and we should treat it with the same status.” ― Ken Robinson


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskolers woon daagliks die tuisskoolsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 10-11 leerders in 2015 is nou oop.



Thursday, October 30, 2014

Waarom tuisskool ouers hul kinders? Wat van sosialisering?



In Suid-Afrika is tuisonderrig besig om te ontplof! Kinders van verskillende tale en kulture tuisskool deesdae: of dit nou deur afstandsleer is of deurdat hulle 'n tuisskoolsentrum bywoon. Watter vorm ouers ookal kies, die redes daarvoor is deur die bank dieselfde en die vraag wat buitestaanders altyd vra is ook dieselfde:  ''Wat van sosialisering? ''


Wat van sosialisering?


Die grootste vrees wat nuwe tuisskolers (en hul familie en vriende) rondom tuisonderrig het, is die geykte kwessie van sosialisering. Hierdie kwessie is al oor en oor deur tuisskolers oorkom deurdat hulle van die volop geleenthede wat deur tuisskool gemeenskappe aangebied word, gebruikmaak om ten minste op 'n weeklikse basis te kan sosialiseer.

Tuisskolers sit beslis nie heeldag by die huis en vereensaam nie. Hulle gaan op uitstappies, doen leierskaps- en avontuurkampe, doen saam kuns, sport en musiek. As mens eers deel van die tuisskoolkringe word, staan jy eenvoudig verstom oor hoeveel sosialiseringsgeleenthede daar werklik vir tuisskolers is. 

As sosialisering op 'n weeklikse basis nie genoeg is nie, skryf ouers hul kinders by tuisskoolsentrums in. By 'n tuisskoolsentrum, kom kinders van verskillende huishoudings daagliks bymekaar om saam te studeer en onderrig te ontvang onder begeleiding van gekwalifiseerde onderwysers wat 'n hart vir tuisonderrig het.


Wat bied 'n tuisskoolsentrum?

 'n Tuisskoolsentrum soos bv. Cum Laude Akademie, in Centurion,, bied aan leerders 'n huislike, veilige omgewing om in te studeer, in te floreer en in te presteer. 

Dit is veral ouers van Graad 9-12 leerders wat hul kinders by tuisskkoolsentrums inskryf omdat hul graag spesialisonderrig in die senior grade aan hul kind wil bied.  

By 'n tuisskoolsentrum verkeer tuisskolers sosiaal met mede- tuisskolers wat dieselfde waardes as hulle het en in dieselfde bootjie as hulle is. Hulle leer saam en stres bietjie saam voor 'n toets / eksamen en gebruik mekaar as klankbord, wat leer stimuleer en prestasies verbeter. Betrokkenheid by 'n tuisskoolsentrum dien as motivering vir leerders en moedig selfs bietjie gesonde kompetise onder mekaar aan, wat leerders se persoonlike dryfkrag verhoog! 

Tuisskoolsentrums verseker ook dat jou kind se akademie op standaard is en aan al die vereistes vir die Graad voldoen. Dit is veral Graad 10-12 wat deesdae 'n tameletjie is deurdat dit as een kwalifikasie hanteer moet word.  Geregistreerde tuisskoolsentrums soos Cum Laude Akademie bly op hul tone en op die voorpunt van nuwe verwikkelinge in die nasionale beleid en gee dit aan tuisskolers en hul ouers deur. 

Hoekom kies ouers om hul kinders te tuisskool?

  • Om hul kind se prestasies te verbeter en akademiese standaarde te verhoog: Tuisskoolouers stem gewoonlik nie saam met die oorvol klasse en tanende akademiese standaard in hoofstroomskole nie,  Hulle wil graag vir hul kinders uitstaande onderrig gee sodat hulle grondslag vir die toekoms sterk kan wees. Die beste tuisskoolsentrums fokus op hoë akademiese standaarde en individuele aandag, dus is tuisskoling 'n uitstekende alternatief tot hoofstroomskoling. Tuisskolers leer van vroeg af om self verantwoordelikheid vir hul studies te neem, hul het meestal hope selfdissipline en weet ook meestal waarheen hulle oppad is. Dit is 'n bekende feit dat tuisskolers beter vaar aan Universiteite omdat hulle goeie tydsbestuurvaardighede van jongs af aangeleer het.
  • Om hul kind te vrywaar teen boelies:
    Talle kinders wat hoofstroom- of privaatskole bywoon was al deur boelies geteiken. Tuisskoolouers vertel soms dat baie van die boelies selfs onderwysers was wat hul kind
    emosioneel benadeel en hul selfvertroue geskend het! Waar kinders eens ekstrovertiese, gelukkige kinders was, het die geboelie hul kinders in hul dop laat kruip. By 'n tuisskoolsentrum kry leerders individuele aandag deur personeel wat 'n passie vir tuisskolers het en ook die hart van tuisskoling verstaan en sal dus nooit so ver gaan as om leerders af te kraak nie. Die waardes wat deur personeel en mede-tuisskolers uitgeleef word is opbouend en laat leerders weer veilig voel om te waag en hul beste te gee. 
  • Om hul kind se morele waardes en geloofslewe te bewaar: Sommige tuisskoolouers voel dat skole se reg om hoë morele standaarde en dissipline te handhaaf weggeneem word. Disrespek teenoor andere is aan die toeneem en raserige klasse, terwyl die onderwyser klasgee, is ook totaal en al onwenslik. Tuisskoolouers wil graag hul kinders se sedes bewaar en verkies dus om hul kinders uit die hoofstroomskole te neem. 
  • Om hul kind se ADHD-simptome onder beheer te bring: ADHD lyers is leerders wat gewoonlik nie die chaos in oorvol klasse kan hanteer nie, Sulke leerders benodig rustiger omstandighede om in te studeer. Hulle sukkel om in 'n warboel te floreer, raak agter in die klas en presteer gevolglik swakker as wat hul hoef. In die tuisskoolsentrum, waar leerders ordelik werk en individuele aandag kry, verminder die ADHD simptome soms drasties en die kind se punte verbeter met rasse skrede.  ADHD lyers raak  nie weg in tuisskoolsentrums nie en pas gewoonlik baie goed in die privater omstandighede aan.
***

Die ware feite is dat tuisskolers oor die algemeen uitstekend gesosialiseer is en kom gewoonlik maklik met alle ouderdomme kinders en volwassenes oor die weg. Hulle beskik meestal oor 'n breë algemene kennis omdat hul ouers van elke geleentheid 'n leergeleentheid gemaak het en kommunikasie in die gesin 'n prioriteit is.

Tuisskoling is sekerlik nie die antwoord vir alle leerders nie, maar is beslis die antwoord vir leerders wat om die redes hierbo genoem, 'n werkbare alternatief soek.

Tuisskoling verg totale toewyding en fokus as jy dit regtig wil maak werk. Deur jou kind in 'n tuisskoolsentrum te plaas, kry jy die beste van twee wêrelde: die veilige, persoonlike aandag van tuisonderrig en die gesellige samesyn met mede-tuisskolers wat, net soos jy, die beste vir hul kinders wil hê.

--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 9--12 tuisskolers. Die Cum Laude tuisleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. *Afstandsleer opsies is ook beskikbaar.* Bepalings en voorwaardes geld.

Registrasies vir Graad 9--11 leerders in 2016 is nou oop.