Saturday, September 27, 2014

Vakkeuses en Vakbeskrywings vir Graad 10 - 12

Vakkeuses Gr. 10 tot 12

Om vakke aan die einde van Graad 9 te kies is nie 'n maklike taak nie! Watter kriteria gebruik ouers en leerders om op daardie jong ouderdom al so 'n ernstige keuse uit te oefen?

Moet ouers en tieners wat vakke kies fokus op:
  • die leerder se akademiese sterkpunte?
  • die leerder se belangstellings en voorlopige loopbaankeuse?
  • wat die leerders se maats kies?
  • wat die maklikste en minste werk van die leerder sal verwag?

Die beste sal wees as leerders vakke so kies dat hul die meeste moontlike opsies tot hul beskikking het na skool. Nie alle studente wil direk na skool verder studeer nie, maar mens weet nooit wat hulle later in hulle lewens sou besluit om te doen nie.

By Cum Laude Akademie glo ons die matrieksertifikaat bly eenvoudig die sleutel tot 'n blink toekoms vir almal en ons ondersteun graag leerders om reg te kies en alle opsies oop te hou. Hul mag dalk nie nou lus wees om te gaan studeer nie, of hulle kan dalk nie nou bekostig om te gaan studeer nie, maar mens weet nooit of hulle nie dalk later jare lus kry of die geld bymekaarskraap om wel te gaan studeer nie. Hoe dit ookal sy, Graad 9's wat vakke kies, moet dit ingedagte hou. Want of hul direk na skool of jare later besluit om te gaan studeer, sal die vakkeuse wat hul in Graad 9 uitgeoefen het, 'n impak hê.

Vir Graad 10-12 tuisskoolleerders wat by Cum Laude Akademie se sentrumleer of afstandsleer ingeskakel is, geld dieselfde voorskrifte as wat vir ander skole in die S.A. geld: sekere vakke is verpligtend vir alle Graad 10-12 leerders, aangesien die Onderwys Departement dit so bepaal terwyl ander vakke as keusevakke aangebied word.

Die verpligte vakke is:

  • Afrikaans /Afrikaans Addisionele Taal
  • Engels Addisionele Taal of Engels Huistaal, (mits die leerder vir Engels Huistaal  ʼn gemiddeld van 75% vir Engels in graad 9 behaal het.)
  • Lewensoriëntering
  • Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid

Alle leerders wat by Cum Laude Akademie ingeskryf is, moet DRIE keusevakke of verdere addisionele vakke kies:

  • FISIESE WETENSKAP
  • LEWENSWETENSKAP - net as genoeg leerders die vak wil neem
  • REKENINGKUNDE - net as genoeg leerders die vak wil neem
  • BESIGHEIDSTUDIES
  • RELIGIESTUDIES
  • EKONOMIE
  • GEOGRAFIE

Toelating tot verdere studie aan universiteite en kolleges vereis:

Vir Diplomastudies: Ten minste 40% in vier vakke in die Graad 12 eindeksamen, Lewensoriëntering uitgesluit.

Vir Graadstudies: Ten minste 50% in vier vakke,  Lewensoriëntering uitgesluit.

** Dit is belangrik om daarop te let dat sekere studierigtings by tersiêre instellings unieke vakpakkette vereis. Dit is u dus en u kind se eie verantwoordelikheid om u van hierdie vereistes te vergewis en kan Cum Laude Akademie nooit vir enige vakpakket wat u kies, verantwoordelik te hou wat dalk u kind in die toekoms mag penaliseer nie. Neem asb. kennis dat Wiskunde en Fisiese Wetenskap steeds ʼn vereiste vir universiteitstudie is.

Toelatingsvereistes tot Wiskunde Graad 10 by Cum Laude Akademie 

Om tot Wiskunde in graad 10 toegelaat te word, moet ʼn leerder ten minste 50% vir Wiskunde aan die einde van graad 9 behaal het. Indien die leerder dit nie behaal het nie, beveel ons aan dat ’n leerder Wiskundige Geletterdheid oorweeg. Leerders wat met gemak 50% vir Wiskunde in Graad 9 behaal het, word aangeraai om met Wiskunde te volhard, omdat Cum Laude Akademie nie daarinn glo om die maklike uitweg te kies net omdat mens kan nie. Onthou: Hou al jou toekomsopsies oop!

Vakbeskrywing van Cum Laude Akademie keusevakke


Besigheidstudie
In Besigheidstudie word daar onder andere na die volgende aspekte in die sakewêreld gekyk:
Besigheid en omgewingsfaktore, Besigheidsgeleenthede, Besigheidsrolle, Besigheidsfunksies, Bestuur en Leierskap,
Ondernemingsvorme, Wetgewing wat besigheid impakteer, Beleggings.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Hierdie vak is praktykgerig en berei elke leerder voor om eendag ’n suksesvolle entrepreneur en sakeman te wees. Dit kyk na alle aspekte van besigheidsbestuur. Besigheidstudie bied ’n goeie basis vir leerders wat in enige ekonomiese rigting wil studeer.

Rekeningkunde
Rekeningkunde word praktykgerig aangebied en konsentreer daarop om leerders met praktiese vaardighede toe te rus t.o.v. volledige rekeningkundige rekordhouding van enige transaksie. Dit is ook ʼn sterk aanbeveling vir enige B.Com studierigting.

Gr. 10: Debiteure- en krediteure, Finansiële state, BTW-berekeninge, Loon- en Salarisjoernale, Begrotings
Gr. 11: Bateverkope, Bankversoeningstate, Kontrolerekeninge, Finansiële state, Vennootskappe, BTW, Vervaardigingsondernemings, Boekhouding van sportklubs, Kontantbegrotings
Gr. 12: Maatskappye, Kontantvloeistate, Begrotings, Voorraadstelsels en beheer, Voltooiing van BTW vorm en grootboekrekeninge, Ontleding en vertolking van finansiële state, Interne oudit, Etiek en interne beheer, Debiteure- en krediteure versoeningstate, Produksiekostestate van vervaardigingsondernemings

Ekonomie
Ekonomie is ’n vak wat leerders uitdaag om krities te dink en oplossings te vind vir ekonomiese vraagstukke. Die internet, koerante, tydskrifte en televisie word as media gebruik vir navorsing om agtergrondinligting te verkry, krities te evalueer en denke te stimuleer.

DOELSTELLINGS:
 ’n Uitgebreide ekonomiese woordeskat om te debatteer en kommunikeer. Die ondersoek van metodes en strategieë, menseregte, die invloed en impak van die plaaslike sowel as internasionale ekonomie, die impak van die geld- en bankwese.

’n Uitgebreide kennis van die vakgebied kan die leerder inspireer om die volgende loopbane te oorweeg: Bankwese, vervaardigingsbedryf, internasionale handel, entrepreneurskap en vermaaklikheidsbedryf.

Fisiese Wetenskap
TOELATINGSVEREISTES: Vanaf Graad 10-12 is Fisiese Wetenskap ’n keusevak.

DOELSTELLINGS:
Om logiese redenasies en gevolgtrekkings te ontwikkel. Eksperimentele werk geniet ’n hoë prioriteit en leerders word aangemoedig om self te doen en te ontdek.

VAKINHOUD
Chemie en Fisika:  Meganika, Golwe, Klank en lig, Elektrisiteit en Magnetisme, Materie en materiale
Organiese Chemie, Chemiese verandering, Chemiese stelsels, Sure en Basisse.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Ingenieurswese, Medies, Tandheelkunde, Veeartsenykunde, Landbouwetenskappe, Fisikus, Chemikus, Arbeids- en Fisioterapie. Fisiese Wetenskap word ook sterk aanbeveel vir vele ander beroepe.

Lewenswetenskap
Lewenswetenskap is die enigste vak in die skool waar ons leer van lewende organismes.

DOELSTELLINGS:
Wakker leerders se belangstelling in die natuur, plante- en dierelewe en die menslike fisiologie aan. Bewusmaking van die belangrikheid van biodiversiteit en biogenetika in ons dinamiese wêreld. Om by leerders die respek vir die natuur aan te kweek.

VAKINHOUD:
Ekologie en bevolkingsdinamika, Ontwikkeling van plante en diere,Fisiologie: mens, plant- en dier, Teorieë oor die oorsprong van lewe, Verandering deur evolusie, die basis van genetika en genetiese manipulasie.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Genetika, Biochemie, Wynbou, Natuurbewaring, Sportkunde, Verbruikerswetenskap, Medies

Geografie
Geografie is ’n wetenskap wat fisiese, menslike en ruimtelike kragte op aarde bestudeer, wat geïntegreerd voorkom oor ruimte en tyd. Dit bestudeer die verspreiding van bevolkings en hulle aktiwiteite t.o.v. fisieke en mensgemaakte strukture, ekosisteme en die interaksie tussen die mens en hulle omgewing. *Geografie  kwalifiseer ook as ʼn universiteitsvrystellingsvak.

VAKINHOUD:
Wisselwerking tussen die mens en sy omgewing, Bevolking en verstedeliking, Ontspanning, toerisme en ekonomiese aardrykskunde, Data-insamelingstegnieke, lugfotografie, kaart-analise en interpretasie. Wêreldprobleme en hulpbronne, Fluviale prosesse, Geomorfologie, Klimaat en weer, GIS.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Stads- en streeksbeplanning, Geologie, Kartografie, Landskapsargitektuur, Weerkunde, Omgewingsbewaring, Rotsmeganika, Lugvaartkunde, Hidrologie, Argeologie, Sterrekunde.
Word ook sterk aanbeveel vir: Argitektuur, Bosbouwese, Vervoeringenieurswese, Grondkunde, Mynbou-ingenieurswese, GIS-rekenaar.

So, of jy nou tuisskool, 'n tutorsentrum bywoon of tuisonderrrig deur afstandsleer vanuit 'n verafgeleë dorpie in Suid-Afrika doen en wil matrikuleer, is hierdie die mees algemene/verpligte vakke wat enige leerder moet/kan neem. Vir afstandsonderrig is hierdie die vakke wat nie 'n te groot praktiese komponent het wat die saak vir afstandsleerders bemoeilik wat dalk nie fasiliteite soos laboratoria beskikbaar het nie.  Hierdie vakkombinasies is ook 'n veilige keuse indien die tuiskoler graag Universiteitsvrystelling wil bekom.
--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.

Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.



Sunday, September 21, 2014

Help, my kind haat skool! Wat gaan van hom word?



Is jou tiener dolgelukkig in die skool, of voel jou kind vasgevang, onveilig en onderdruk tussen die skoolmure?


Daar is duisende skoliere wat daagliks dolgelukkig skool toe gaan en absoluut floreer binne die skoolinstelling. Daar is hordes wie se kos dit is om een van die groter groep te wees en die ''buzz'' van skoollewe geniet.

MAAR 
Vir talle ander leerders is skool toe gaan 'n nagmerrie wat nooit ophou nie! ADHD lyers sukkel om te fokus in die oorvol besige klasse en die stil, skaam leerders raak weg in die warboel wat soms in klaskamers heers. Talle selfbewuste, sensitiewe tieners is te bang om vrae in die klas te vra uit vrees vir verwerping en uitjouing deur hul klasmaats. Gereelde emosionele en/of fisiese afknouery en geboelie benadeel dikwels leerders se welsyn en prestasies.

Hoeveel leerders is daar wat hul volle akademiese potensiaal onder sulke omstandighede kan bereik? Sonder deeglike ondersteuning van ouers en onderwysers, val sulke leerders maklik deur die krake van die sisteem en bereik die gemiddelde kind (wat nie te slim òf te stout is om al die aandag op hulself te vestig nie) beslis nie hul volle potensiaal nie.


Wat is die langtermyneffek op leerders wat hulself nie akademies kan uitleef nie?

Sommige leerders wat nie akademies gestimuleer word in 'n opvoedkundig gesonde omgewing nie:

  • stomp akademies af en leer word as minder belangrik beskou
  • stomp emosioneel af en onttrek en interpersoonlike verhoudings met familie en vriende ly skade
  • word stout en vang onnodige kattekwaad aan
  • skep nie ideale en lewensdrome om te verwesenlik nie en 
  • studeer nie verder aan tersiêre inrigtings om blink beroepsmoontlikhede te verseker nie

Is daar iets wat mens aan kan jou kind se ongelukkigheid kan doen?

Beslis! Jy moet iets daaraan doen. Daar is geskikte alternatiewe instansies beskikbaar waarby jou kind kan inskakel om steeds hul skoolkwalifikasie te verkry. Hoofstroomskole en privaatskole is nie die ouer se enigste opsies nie. Beide sentrumleer of afstandsleer tuiskoling is alternatiewe skolingsmetodes wat jou kind kan help om sy volle akademiese potensiaal te bereik. 

Tuisonderrig kan suksesvol deur ouers vanaf Gr R-9 gedoen word. Dit is wettig in S.A. en maklik om te begin. Ouers moet net hul skoolpligtige kinders by die Departement van Basiese Onderwys registreer en die nodige selfdissipline toepas om hul kind die beste skoling moontlik te gee. Tuisonderrig is beslis 'n reuse verantwoordelikheid, maar is uiters belonend as ouers en leerders dit ernstig opneem. Suksesvolle tuiskolers is van die mees aangepaste jongmense as hul skoling behoorlik en toegewyd voltooi is. 

Graad 10-12 verg egter intense toewyding van ouers en leerders en ouers voel nie altyd toegerus om die wa op daardie vlak meer deur die drif te trek nie. Vakke soos Wiskunde en Wetenskap benodig spesialiskennis en ouers kan dikwels nie hul tieners enduit daarmee help nie. Verder is Gr. 10-12 as nasionale kwalifikasie onder die KABV (CAPS)-kurrikulum, deesdae so onafskeidbaar deel van mekaar met baie, besliste wetlike vereistes as voorwaarde vir die uitreiking van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) deur Umalusi, dat ouers die tuisonderrigtaak in die seniorgrade eerder aan kenners oorlaat of hul kinders terug in die skool sit.

Maar hoe nou gemaak as jy reeds jou kind uit die skool gehaal het omdat die kind nie in die skool floreer het nie? 

Die Cum Laude Akademie: SACAI Assessering-en Tutorsentrum in Centurion is jou antwoord! Graad 10-12 tuisskoolleerders woon daagliks die sentrum vanaf 8:00-14:00 by waartydens hulle hul werk leer en bemeester, toetse en eksamens skryf en tutorklasse vir die moeiliker vakke soos Wiskunde en Wetenskap ontvang. 

SACAI modereer alle Cum Laude Akademie se Gr. 10-12 sentrum- en afstandsleerders se werk,  ter voorbereiding van die matriekeksamen aan die einde van Graad 12. (SACAI is die formele eksamenraad vir afstandsleerders en tuisskolers wat deur Umalusi akkrediteer is om tuiskolers te eksamineer.)  

Cum Laude Akademie rig tuiskoolleerders af vir eksamen- en lewenssukses en leerders wat graag goeie punte wil behaal word aangeraai om by Cum Laude Akademie in te skakel. Cum Laude Akademie kweek wenners!

Watter kurrikulum volg Cum Laude Akademieleerders?

cumlaudeakademie.co.zaCum Laude Akademie gebruik die nasionale kurrikulum se materiaal, wat ook deur die hoofstroomskole gebruik word. Ouers is dus gerus dat hul kinders nie by hoofstroomskoolleerders afsteek nie. Inteendeel, Cum Laude Akademie se studiesisteem is so effektief en beproef, dat Cum Laude Akademie sentrum- en afstandsleerders baie hoofstroomskoolleerders ver voor is!  

Cum Laude Akademie se leerders leer hul werk indringend ken en uitstekende prestasies is die gevolg! Die Cum Laude Akademie se sisteem help toegewyde leerders wat voorheen met swak punte geworstel het, om dit wat hul terug gehou het, te ontdek en by die horings te pak en te oorkom. 

Cum Laude Akademie is die sentrum vir leerders wat graag topprestasies vir toelating tot top tersiêre instansies wil behaal. Die meeste leerders by Cum Laude Akademie beoog om Geoktrooieerde Rekenmeesters, Geoloë en Mediese dokters te word.

Wat is die langtermyneffek op leerders wat hulself wel akademies kan uitleef in die gepaste, alternatiewe leeromgewing soos Cum Laude Akademie?

Bevoorregte leerders wat by Cum Laude Akademie ingeskryf is, word afgerig om te leer, te studeer en eksamen te skryf. Sodanige leerders:
  • is lief vir leer en studeer
  • is emosioneel kerngesond
  • wil graag hulle beste self wees
  • het selfvertroue in hul eie akademiese vermoëns
  • kies gesonde leefstyle 
  • droom groot en strewe hul lewensideale na 
  • maak goeie beroepskeuses wat tot belowende finansiële vooruitsigte lei 

So, jou kind haat skool, sy punte lyk beroerd en jy wonder wat van hom gaan word. Daar is hoop vir jou kind! Hy hoef nie 'n slagoffer van 'n sisteem te bly wat nie vir hom werk nie. Daar is alternatiewe beskikbaar en dis nog nie te laat om in te gryp nie...

Die verandering en inskakeling by 'n tutorsentrum soos Cum Laude Akademie sal sekerlik vir jou as ouer en vir jou kind 'n aanpassing wees, maar jou kind sal die vrugte van die verandering smaak en nooit weer terugkyk nie.


--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 tuisskoolleerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 sentrum-en afstandsleerders  skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.

Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.

Friday, September 19, 2014

Watter vakke is verpligtend as ek my Nasionale Senior Sertifikaat wil behaal?

Vakkeuses vir leerders en afstandsleerders in Graad 10-12 vir die VOO-fase


Aan die einde van Graad 9 moet alle voornemende Graad 10 kandidate, sewe vakke uit die ''Verdere Onderwys en Opleiding- kurrikulum'' kies waarmee hulle wil matrikuleer om hul Nasionale Senior Sertifikaat te behaal.

Hierdie vakkeuse is 'n belangrike besluit wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, aangesien die NSS nie opsigself verdere studies verseker nie. Elke Graad 9 leerder behoort hul persoonlike akademiese belangstelling en -vermoë ingedagte te hou wanneer hulle die keuse uitoefen, maar terselfdertyd moet die leerder verseker dat hy sy opsies vir moontlike Universiteitstudies na matriek of in die verre toekoms oophou. 

Universiteite, Tegnikons en Kolleges regoor Suid-Afrika het bepaalde toelatingsvereistes waaraan voornemende studente moet voldoen indien hulle toelating tot sulke instansies wil bekom. Aspekte soos die regte vakke vir die bepaalde studierigting, sowel as spesifieke akademiese prestasie in bepaalde vakke word as toelatingsvereistes gestel.  Elke Graad 9 leerder moet hierdie inligting ingedagte hou wanneer vakke vir Graad 10-12 gekies word.  Dit is en bly die ouer en leerder se verantwoordelikheid om die regte, ingeligte keuses te maak, aangesien die verkeerde besluite uiters beperkend kan wees vorentoe. 

Graad 9 leerders is nog maar jonk wanneer hulle hul vakkeuses moet uitoefen en nie almal weet al in Graad 9 watter beroep hulle eendag wil volg nie. Ouers word aangeraai om hul kinders formele toetse te laat aflê wat hul kind se belangstellings en persoonlikheid kan uitwys en ook gepaste beroepe kan voorstel. Hierdie toetse kan met groot sukses deur die loop van Graad 9 by universiteite of erkende loopbaanberaders gedoen word. Die uitkoms van sulke toetse dui met groot akkuraatheid die moontlike beroepsrigtings en die gepaste vakkeuses vir die leerder aan en bied uitstekende leiding aan ouers en leerders om ingeligte besluite te neem

Verpligte vakke

Alle Graad 10-12 Leerders word verplig om die volgende vakke te neem as hul die NSS wil verwerf:
  • Huistaal, bv. Afrikaans 
  • Addisionele Taal, bv. Engels
  • Wiskunde / Wiskunde Geletterdheid *
  • Lewensoriëntering **

Keuse vakke

Leerders kan enige DRIE keuse vakke kies, maar let wel, nie alle keuse vakke word by alle instansies aangebied nie. Cum Laude Akademie: SACAI Assessering- en Tutorsentrum,  bied bv. die volgende algemene vakke aan:
  • Fisiese Wetenskap
  • Rekeningkunde
  • Geografie
  • Ekonomie
  • Geskiedenis
  • Besigheidstudies
  • Lewenswetenskappe 
Cum Laude Akademie spesialiseer in hierdie bogenoemde vakke omdat dit die meeste leerders in 'n goeie posisie plaas om vryelik verdere professionele studierigtings en beroepskeuses te maak. Ander instansies mag egter verdere vakke soos Toerisme, Verbruikerstudies, RTT, Landbouwetenskappe, Visuele Kunste, Dramatiese Kuns ens. aanbied.

Wat moet ek kies: Wiskunde of Wiskunde Geletterdheid?

* Die VOO kurrikulum vereis dat leerders Wiskunde òf Wiskunde Geletterdheid as vak neem. Wiskunde is 'n vak wat vir baie leerders 'n slegte konnotasie het, maar tog is daar diegene wat die vak met gemak bemeester.  Vir ander mag Wiskunde Geletterheid meer gepas wees.

Wiskunde Geletterdheid moet egter nie as ‘n maklike uitweg gesien word en lukraak gekies word indien leerders nie kans sien vir Wiskunde nie. Met die regte hulp en oefening kan Wiskunde beslis bemeester word. 

Waar Wiskunde o.a. logiese denke, probleemoplossing en besluitneming in leerders ontwikkel, doen Wiskunde Geletterdheid eintlik maar dieselfde en ontwikkel vaardighede wat leerders in die moderne wêreld benodig en die gebruik van tegnologie word ook in hierdie kursus ontwikkel.

Wiskunde en Wiskunde Geletterdheid verg albei baie aandag en gereelde oefening. As die leerder daagliks met die vak werk en ''speel'', word begrippe en patrone vasgelê wat Wiskunde maklik maak om te verstaan.

Maak egter baie seker of die leerder se naskoolse studierigting nie dalk Wiskunde in plaas van Wiskunde Geletterdheid vereis nie. Wiskunde Geletterdheid moet NIE gekies word as leerders Geneeskunde, Ingenieurswese of Wiskundige rigtings soos B.Com wil studeer na skool nie. Daar is wel baie studierigtings waarvoor Wiskunde Geletterdheid voldoende is, maar leerders moet hul opsies deeglik ondersoek voor hul hierdie keuse gemaak word. 

Wat is Lewensoriëntering?

** Lewensoriëntering is ‘n verpligte vak wat tot en met die Rekordeksamen in Graad 12 eksamineer word. Leerders word nie tot die NSS toegelaat sonder bewyse dat hul Lewensoriëntering as vak geneem het nie. Die vak vereis spesifieke take, toetse en eksaminering wat uiteindelik in die Graad 12 leerder se portefeulje sigbaar moet wees voordat die matrieksertifikaat uitgereik word.

Lewensoriëntering fokus daarop om leerders te lei hoe om hul eie lewens te bestuur, stres te hanteer, aansoek te doen om betrekkings, hul regte en pligte as landsburgers te verstaan en gesonde, verantwoordelike lewenskeuses uit te oefen. Die inligting is beslis bruikbaar en prakties vir alle leerders en moet nie afgeskeep word nie.

--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.

Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.




Friday, September 12, 2014

Tuisskoling is NIE vir sussies nie



Is tuisskoling slegs vir sussies wat dit nie in die publieke skool kan maak nie? 

Beslis nie! Tuisonderwys is juis NIE vir sussies nie. 

Te gereeld hoor mens uitsprake van oningeligde mense wat reken dat tuisonderrig niks goeds vir leerders inhou nie. Kwansuis meen hulle tuisskolers weet nie hoe om: 
  • te sosialiseer nie
  • gesag te aanvaar nie en 
  • hulself in die wêreld daarbuite te handhaaf nie.

Dat daar wel tuisskolers is waarvan hierdie aantuigings waar is, mag sekerlik so wees, maar daar is ook ordes meer tuisskolers in Suid-Afrika vir wie dit die beste roete na akademiese sukses is. 
  • Leerders wat gefokus wil werk en top akademiese resultate wil behaal, doen wonderlik met tuisonderrig! 
  • Leerders wat wegraak in groot klasse en individuele aandag benodig, floreer met tuisskoling. 
  • Diegene wat agtergeraak het in die skool en oorweldig was deur die werkslading, baat by tuiskoling.
Die feit bly, as tuisonderrig reg gedoen word en nie as verskoning vir luiheid en rigtingloosheid aangehang word nie, of bloot gedoen word om op skooluniforms te spaar nie, is dit 'n wonderlike manier waarop ouers hul kinders kan lei en stuur om hul beste self te word.  Trouens, toenemend meer families in Suid Afrika KIES tuisonderrig om meer in beheer van hul kinders se prestasies en toekoms te wees!


Moet ouers gekwalifiseerde onderwysers wees om hul kinders self te leer?

Alhoewel dit beslis baie sal help om gekwalisfiseerd te wees, is dit geen vereiste nie. Dit is in sommige gevalle selfs beter as die ouer / voog nie die ''juffrou'' probeer wees nie! Die kern van tuisonderrig is om die leerder in hul studies te interesseer en aan te moedig om selfwerksaam te raak omdat dit opwindend is om kennis in te win. Die ouer se rol beweeg dus weg van die tradisionele "onderwyser" af en word eerder 'n fasiliteerder wat die leerklimaat skep waarin die leerder suksesvol kan wees. Spesialis vakkundiges kan altyd betrek word indien nodig om daardie krapperige areas aan te spreek wat van tyd tot tyd opduik.

Is tuisskoling wettig in S.A?

In Artikel 51(1) van die S.A. Skolewet, 84 van 1996 word ouers / voogde toegelaat om hul kinders tussen Graad R-9 te tuisskool. Die Skolewet vereis wel dat sulke leerders by die Departement van Basiese Onderwys moet registreer, aangesien die leerders skoolpligtig is. Ouers wat kies om te tuisskool moet aan departementele vereistes voldoen en deeglike rekord van alle werk hou, gereed vir departementele inspeksie. Die departementele vereistes is nie buitensporig of vreesaanjaend nie, maar neem bietjie dissipline en organisasie om dit by te hou. 

Waar kry ek my kinders wat in Graad R-9 is, se kurrikulumboeke?

Die Departement beperk nie Graad R-9 tuisskoolkurrikulums nie, so ouers is vry om die materiaal van hulle keuse vir hul kinders te gebruik en selfs te meng en pas soos hulle wil. As mens egter nie onderwysagtergrond het nie en onseker en onervare is, mag dit wys wees om met tuisskoolkenners by Cum Laude Akademie kontak te maak sodat ons u kan begelei in u keuse van kurrikulum.

Verskeie kurrikulums vir Graad R-9 is vryelik beskikbaar by akademiese boekwinkels se skole afdelings en 'n see van bruikbare boeke is joune om van te kies! Ander kurrikula is ook op die internet beskikbaar. Dit is egter onnodig om duur opsies te kies: boeke werk steeds wonderlik en kan maklik weer deur jonger kinders herbruik word. 

Kan tuisskolers 'n matrieksertifikaat met Universiteitsvrystelling verkry? 

Ja beslis! Leerders wat nie meer van skoolpligtige ouderdom is nie en Graad 10-12 wil aanpak, hoef nie by die Departement te registreer nie. Sulke leerders moet wel by 'n geakkrediteerde eksamenraad registreer indien hulle die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wil bekom en by tersiêre instansies wil gaan studeer. Daarbenewens moet hul aan die vakkeuse- en prestasie vereistes van die betrokke beoogde kursus voldoen en self toelating tot die instansie bekom.

Graad 10 -12 tuisskolers kan deur middel van afstandsleer of sentrumleer by Cum Laude Akademie inskakel. Ons help ouers en Graad 10-12 leerders deur aan die die regering se vereistes te voldoen deur hulle by die Suid Afrikaanse Komprehensiewe Assesserings Instituut (SACAI) te registreer en ook te verseker dat alle skoolwerk, take, toetse en eksamens op datum is en deur SACAI gemodereer word ten einde die NSS te verkry. 

Die NSS kwalifikasie dek Graad 10-12 wat eintlik een kwalifikasie is wat oor 3 jaar versprei word. Die 3 grade is op grond van die nuwe amptelike KABV (CAPS) kurrikulum onlosmaaklik deel van mekaar. SACAI en Umalusi (die regering se raad wat aangestel is om die kwaliteit van SA se primêre en sekondêre opvoeding te verseker) hou 'n stewige hand op Graad 10-12 leerders en die administrasie wat daarmee gepaard gaan. 


Hoe skryf tuiskolers eksamen?

Graad R-9 se toetse en eksamens kan deur ouers / tutors opgestel en nagesien word. Deeglike rekords van die vraestelle en die memoranda moet gehou word, asook bewyse van die kind se prestasie in die toets of eksamen. Dit is egter raadsaam dat ouers kinders aan goeie toetse en eksamenomstandighede blootstel in Graad R-9, om hul so voor te berei vir die eksterne eksamens wat hulle vanaf Graad 10-12 sal moet skryf. Eksamenskryf is 'n kuns en 'n belangrike vaardigheid om aan te leer. 

Eksamens en toetse in Graad 10-12 is formeel en deeglike bewys moet daarvan in die leerders se lêers gehou word vir modererering deur SACAI en Umalusi. Alle Graad 12 eksamens, is ekstene eksamens wat deur SACAI opgestel en deur Umalusi gemodereer word en wat in geregistreerde eksamensentrums afgele moet word.

Graad 12 leerders se praktiese werk moet ook ekstern eksamineer word. Die tale het bv. toesprake wat eksamineer word en ander vakke het praktiese komponente wat eksamineerbaar is. Om te verseker dat u kind aan die Graad 10-12 vereistes voldoen, word u aangeraai om u kind by Cum Laude Akademie in te skryf. Cum Laude Akademie is in noue kommunikasie met SACAI en as geregistreerde assessering- en tutorsentrum weet ons hoe om die pas vir leerders aan te gee om aan al die vereistes te voldoen.   


Is tuisonderwys iets wat uitvallers of uitblinkers aanpak?

Tuisonderwys vir Graad R-9 is nie kinderspeletjies is nie. Beide uitblinkers en uitvallers kan by tuisskoling baat mits die leerder goed georganiseerd is, die leerder met toewyding begelei word en die ouer en leerder oor selfdissipline en deursettingvermoeë beskik.

Graad 10-12 leerders het beslis eksterne begeleiding nodig! Die slaagvereistes en skoolgebasseerde assessering wat deesdae baie spesifiek is, is 'n mondvol en moet deeglik nagekom word. Deur by Cum Laude Akademie in te skakel, kan Graad 10-12 leerders wat by die Sentrumleerprogram in Centurion inskakel, die nodige begeleiding daagliks ontvang en saam met ander tuisskoolmaats die werk bemeester. Alternatiewelik, kan leerders deur middel van Cum Laude Akademie se Afstandsleerprogram, tuis studeer. In hierdie geval word van ouers verwag om te verseker dat alle werk soos gespesifiseer, deur hul kinders bygehou word, voltooi en bemeester word en die nodige organisasie en begeleiding te verskaf om aan alle vereistes te voldoen.


__________________________________________________

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.
Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.

Thursday, September 11, 2014

Die Drie Pilare Van Eksamensukses: Kennis, Spoed en Akkuraatheid


Dit is eenvoudig 'n feit: hoe meer kompeterend opvoeding en opleiding raak, hoe groter word leerders se werkslas! Ongelukkig reken sommige dat vragte addisionele kennis beter studente van leerders maak en hul prestasies sal verhoog, maar eintlik is die teendeel waar. 

Talle leerders in Graad 10-12 voel so oorweldig en oorlaai met al die inligting, dat hulle dit moeilik vind om alles te verwerk en hul eie te maak. Sommige leerders probeer dan eerder 'n bietjie van alles weet voor 'n eksamen, terwyl ander sommer nie eers probeer om deur alles te werk of te memoriseer nie. Hierdie situasie veroorsaak dat leerders eenvoudig alle belangstelling in studies verloor en hul punte nie na wense is nie.

By Cum Laude Akademie, SACAI Assessering- en Tutorsentrum lei ons Graad 10-12 leerders op vir Nasionale Senior Sertifikaatsukses deur hulle reeds van Graad 10 af die vaardighede van die drie pilare van eksamensukses, nl. Kennis, Spoed en Akkuraatheid, aan te leer.

Kennis

As leerders vroeg leer hoe om inhoud te organiseer, prioritiseer, toepassings te maak, kennis te behou en kennis suksesvol te herroep, is hul kans op sukses in die NSS eksamen baie groot en dit is vaardighede wat aangeleer moet word.

Organiseer en Prioritiseer 

Dit is baie belangriker om te onderskei tussen konteksuele inligting en detail inligting en die regte benadering te volg om werk te leer. Deur leerders te help om konstant in eksamenvoorbereidingsmode te wees, help Cum Laude Akademie die leerders om te bepaal hoe diep hulle in sekere onderwerpe moet ingaan en watter elemente van uiterste belang is om hul eie te maak. 

Deur die leerder te help organiseer aan die inhoud en te dan te prioritiseer, leer die Cum Laude Akademie se Graad 10-12 leerders om effektief te studeer en altyd eksamengereed te wees. Die uiteinde is gemotiveerde leerders wat gemaklik en konsekwent goeie punte behaal. 

Kennisbehoud en Herroeping

Om te weet wat om te leer en die inhoud te kan organiseer help niks as die leerder nie die werk kan onthou en die kennis in die eksamen kan toepas nie.  Deur die werk op die leerder se leefwêreld van toepassing te maak en sekere tegnieke aan te leer waarmee die leerder hul geheue kan pols om die kennis te herroep, word leer makliker en die inhoud vars en lewendig gehou.

Spoed

Meeste leerders is so bang vir die tydsbeperkings wat wat op eksamens geplaas word, dat hulle sommer inspring en die bul by die horings pak sonder om die vrae goed te ontleed en werklik te verstaan wat gevra word. Ongelukkig haak leerders dan soms deur die loop van die antwoord vas of hulle gee heeltemal te veel inligting in hulle antwoorde. Albei hierdie gevalle kan die oorsaaak wees waarom leerders nie hul vraestelle in die gegewe tyd kan voltooi nie. 

By Cum Laude Akademie, glo ons dat spoed nie gemeet word aan hoe vinnig die leerder kan wegspring en vrae begin beantwoord nie, maar om eerder spoed te meet aan hoe akkuraat die vraag in 'n spesifieke tyd afgehandel word.  Cum Laude Akademie se Graad 10-12 leerders word afgerig om eerder terug te staan en vrae behoorlik te ontleed voordat hulle daaraan begin werk. Op die manier skop kritiese denke in en word die leerder se stres beter beheer.

Akkuraatheid

Eksamenvrae het baie keer 'n paar vlakke en 'n enkele fout kan 'n hele kettingreaksie van foute tot gevolg hê.

Agtelosige foute word gewoonlik gemaak as die leerder nie die vraag goed ontleed voordat hy dit begin beantwoord nie. 

By Cum Laude Akademie leer ons leerders om akkuraat te werk en so tyd en punte te spaar tydens eksamens. Akkuraatheid verbeter prestasie dramaties.

Gevolgtrekking

Om sukses in die eksamen te behaal rus op drie pilare: Vlak van kennis, Spoed waarin die kennis weergegee word en die Akkuraatheid waarmee die vrae beantwoord word. 

By Cum Laude Akademie word leerders reeds van Graad 10 af geoefen en toegerus met al drie die vaardighede wat sukses in Graad 11 en 12  en die res van hulle lewens verseker. 

_______________________________________________

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat.

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.
Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.


Wednesday, September 10, 2014

Help, my kind is lui om te leer!


Wanneer skrik die kind tog wakker om te begin leer?



Meeste ouers en onderwysers glo die wortel van die kind se swak prestasies is meestal bloot luiheid. Hulle glo leerders presteer beter as hul met strenger dissipline forseer word om te leer. Tog gebeur dit dat slegs 'n klein persentasie van leerders wat streng gedissiplineer word, se punte merkwaardig verbeter. Al word die leerders met 'n ysterhand regeer, vaar hulle nie werklik beter nie. 

Waar sou die probleem dan lê?


Hoe kan die sogenaamde "luiheid" aangespreek word?

By Cum Laude Akademie het ons 'n oplossing vir die probleem gekry. Deur ervaring het ons geleer dat die meeste "lui" leerders, nie regtig lui is nie! Meeste leerders wat swak presteer, weet eintlik net nie hòè om te leer en studeer nie.

Waar begin die "lui" leerder se verval?


In die skool:

Talle leerders word oorweldig deur die groot klasse in skole en raak verlore in die massas kinders. Hul neem gevolglik nie die werk in nie en geen stewige fondasie word ooit gelê nie. Verder is talle leerders bang om vrae in die klas te vra omdat hul nie uitgejou of uitgelag wil word omdat hulle iets nie verstaan nie. Hierdie is die begin van die verval...

By die huis:

Leerders wat  nie by die skool die werk baasraak nie, kan gewoonlik nie tuis onthou wat hulle geleer het nie. Gevolglik sukkel hulle met huiswerk. Hul vra nie graag hul ouers vir hulp nie en raak sò al verder en verder agter totdat hulle nie meer weet waar om te begin leer nie en later bloot moed opgee. 

In die eksamen:

Die gebrek aan kennis veroorsaak dat die leerder stadig werk en nie vraestelle kan klaarmaak nie. Gebrek aan kennis veroorsaak dat die leerder nalatige foute begaan of sommer net 'n "blank" slaan tydens die eksamen. Die gevolg daarvan? Swak punte! Die gevolg van swak punte? Geen verdere onderwys en opleiding na Graad 12 nie...werkloosheid...armoede...

Verkeerde regstellingstegnieke: 

Met die swak rapport word die leerder deur die ouers verwyt en onderwysers kry ook die idee dat die leerder lui is en nie die werk ernstig opneem nie. Strenger dissipline word toegepas wat die kind net verder frustreer en moedeloos agterlaat. 


Hoe kan 'n "lui" leerder met swak punte, die werk inhaal en met goeie punte slaag? 


Cum Laude Akademie forseer nie leerders om meer gedissiplineerd te werk nie, maar werk eerder saam met die leerders om te verstaan waar hulle uitdagings lê en help hulle dan om dit te oorkom. Deur die leerder af te rig om reg te leer en te studeer, word die frustrasies minder en word "luiheid" in die kiem gesmoor en gevolglik verbeter die leerder se punte.

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerder word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 
_______________________________________________

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat.

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.
Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.