Saturday, September 27, 2014

Vakkeuses en Vakbeskrywings vir Graad 10 - 12

Vakkeuses Gr. 10 tot 12

Om vakke aan die einde van Graad 9 te kies is nie 'n maklike taak nie! Watter kriteria gebruik ouers en leerders om op daardie jong ouderdom al so 'n ernstige keuse uit te oefen?

Moet ouers en tieners wat vakke kies fokus op:
  • die leerder se akademiese sterkpunte?
  • die leerder se belangstellings en voorlopige loopbaankeuse?
  • wat die leerders se maats kies?
  • wat die maklikste en minste werk van die leerder sal verwag?

Die beste sal wees as leerders vakke so kies dat hul die meeste moontlike opsies tot hul beskikking het na skool. Nie alle studente wil direk na skool verder studeer nie, maar mens weet nooit wat hulle later in hulle lewens sou besluit om te doen nie.

By Cum Laude Akademie glo ons die matrieksertifikaat bly eenvoudig die sleutel tot 'n blink toekoms vir almal en ons ondersteun graag leerders om reg te kies en alle opsies oop te hou. Hul mag dalk nie nou lus wees om te gaan studeer nie, of hulle kan dalk nie nou bekostig om te gaan studeer nie, maar mens weet nooit of hulle nie dalk later jare lus kry of die geld bymekaarskraap om wel te gaan studeer nie. Hoe dit ookal sy, Graad 9's wat vakke kies, moet dit ingedagte hou. Want of hul direk na skool of jare later besluit om te gaan studeer, sal die vakkeuse wat hul in Graad 9 uitgeoefen het, 'n impak hê.

Vir Graad 10-12 tuisskoolleerders wat by Cum Laude Akademie se sentrumleer of afstandsleer ingeskakel is, geld dieselfde voorskrifte as wat vir ander skole in die S.A. geld: sekere vakke is verpligtend vir alle Graad 10-12 leerders, aangesien die Onderwys Departement dit so bepaal terwyl ander vakke as keusevakke aangebied word.

Die verpligte vakke is:

  • Afrikaans /Afrikaans Addisionele Taal
  • Engels Addisionele Taal of Engels Huistaal, (mits die leerder vir Engels Huistaal  ʼn gemiddeld van 75% vir Engels in graad 9 behaal het.)
  • Lewensoriëntering
  • Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid

Alle leerders wat by Cum Laude Akademie ingeskryf is, moet DRIE keusevakke of verdere addisionele vakke kies:

  • FISIESE WETENSKAP
  • LEWENSWETENSKAP - net as genoeg leerders die vak wil neem
  • REKENINGKUNDE - net as genoeg leerders die vak wil neem
  • BESIGHEIDSTUDIES
  • RELIGIESTUDIES
  • EKONOMIE
  • GEOGRAFIE

Toelating tot verdere studie aan universiteite en kolleges vereis:

Vir Diplomastudies: Ten minste 40% in vier vakke in die Graad 12 eindeksamen, Lewensoriëntering uitgesluit.

Vir Graadstudies: Ten minste 50% in vier vakke,  Lewensoriëntering uitgesluit.

** Dit is belangrik om daarop te let dat sekere studierigtings by tersiêre instellings unieke vakpakkette vereis. Dit is u dus en u kind se eie verantwoordelikheid om u van hierdie vereistes te vergewis en kan Cum Laude Akademie nooit vir enige vakpakket wat u kies, verantwoordelik te hou wat dalk u kind in die toekoms mag penaliseer nie. Neem asb. kennis dat Wiskunde en Fisiese Wetenskap steeds ʼn vereiste vir universiteitstudie is.

Toelatingsvereistes tot Wiskunde Graad 10 by Cum Laude Akademie 

Om tot Wiskunde in graad 10 toegelaat te word, moet ʼn leerder ten minste 50% vir Wiskunde aan die einde van graad 9 behaal het. Indien die leerder dit nie behaal het nie, beveel ons aan dat ’n leerder Wiskundige Geletterdheid oorweeg. Leerders wat met gemak 50% vir Wiskunde in Graad 9 behaal het, word aangeraai om met Wiskunde te volhard, omdat Cum Laude Akademie nie daarinn glo om die maklike uitweg te kies net omdat mens kan nie. Onthou: Hou al jou toekomsopsies oop!

Vakbeskrywing van Cum Laude Akademie keusevakke


Besigheidstudie
In Besigheidstudie word daar onder andere na die volgende aspekte in die sakewêreld gekyk:
Besigheid en omgewingsfaktore, Besigheidsgeleenthede, Besigheidsrolle, Besigheidsfunksies, Bestuur en Leierskap,
Ondernemingsvorme, Wetgewing wat besigheid impakteer, Beleggings.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Hierdie vak is praktykgerig en berei elke leerder voor om eendag ’n suksesvolle entrepreneur en sakeman te wees. Dit kyk na alle aspekte van besigheidsbestuur. Besigheidstudie bied ’n goeie basis vir leerders wat in enige ekonomiese rigting wil studeer.

Rekeningkunde
Rekeningkunde word praktykgerig aangebied en konsentreer daarop om leerders met praktiese vaardighede toe te rus t.o.v. volledige rekeningkundige rekordhouding van enige transaksie. Dit is ook ʼn sterk aanbeveling vir enige B.Com studierigting.

Gr. 10: Debiteure- en krediteure, Finansiële state, BTW-berekeninge, Loon- en Salarisjoernale, Begrotings
Gr. 11: Bateverkope, Bankversoeningstate, Kontrolerekeninge, Finansiële state, Vennootskappe, BTW, Vervaardigingsondernemings, Boekhouding van sportklubs, Kontantbegrotings
Gr. 12: Maatskappye, Kontantvloeistate, Begrotings, Voorraadstelsels en beheer, Voltooiing van BTW vorm en grootboekrekeninge, Ontleding en vertolking van finansiële state, Interne oudit, Etiek en interne beheer, Debiteure- en krediteure versoeningstate, Produksiekostestate van vervaardigingsondernemings

Ekonomie
Ekonomie is ’n vak wat leerders uitdaag om krities te dink en oplossings te vind vir ekonomiese vraagstukke. Die internet, koerante, tydskrifte en televisie word as media gebruik vir navorsing om agtergrondinligting te verkry, krities te evalueer en denke te stimuleer.

DOELSTELLINGS:
 ’n Uitgebreide ekonomiese woordeskat om te debatteer en kommunikeer. Die ondersoek van metodes en strategieë, menseregte, die invloed en impak van die plaaslike sowel as internasionale ekonomie, die impak van die geld- en bankwese.

’n Uitgebreide kennis van die vakgebied kan die leerder inspireer om die volgende loopbane te oorweeg: Bankwese, vervaardigingsbedryf, internasionale handel, entrepreneurskap en vermaaklikheidsbedryf.

Fisiese Wetenskap
TOELATINGSVEREISTES: Vanaf Graad 10-12 is Fisiese Wetenskap ’n keusevak.

DOELSTELLINGS:
Om logiese redenasies en gevolgtrekkings te ontwikkel. Eksperimentele werk geniet ’n hoë prioriteit en leerders word aangemoedig om self te doen en te ontdek.

VAKINHOUD
Chemie en Fisika:  Meganika, Golwe, Klank en lig, Elektrisiteit en Magnetisme, Materie en materiale
Organiese Chemie, Chemiese verandering, Chemiese stelsels, Sure en Basisse.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Ingenieurswese, Medies, Tandheelkunde, Veeartsenykunde, Landbouwetenskappe, Fisikus, Chemikus, Arbeids- en Fisioterapie. Fisiese Wetenskap word ook sterk aanbeveel vir vele ander beroepe.

Lewenswetenskap
Lewenswetenskap is die enigste vak in die skool waar ons leer van lewende organismes.

DOELSTELLINGS:
Wakker leerders se belangstelling in die natuur, plante- en dierelewe en die menslike fisiologie aan. Bewusmaking van die belangrikheid van biodiversiteit en biogenetika in ons dinamiese wêreld. Om by leerders die respek vir die natuur aan te kweek.

VAKINHOUD:
Ekologie en bevolkingsdinamika, Ontwikkeling van plante en diere,Fisiologie: mens, plant- en dier, Teorieë oor die oorsprong van lewe, Verandering deur evolusie, die basis van genetika en genetiese manipulasie.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Genetika, Biochemie, Wynbou, Natuurbewaring, Sportkunde, Verbruikerswetenskap, Medies

Geografie
Geografie is ’n wetenskap wat fisiese, menslike en ruimtelike kragte op aarde bestudeer, wat geïntegreerd voorkom oor ruimte en tyd. Dit bestudeer die verspreiding van bevolkings en hulle aktiwiteite t.o.v. fisieke en mensgemaakte strukture, ekosisteme en die interaksie tussen die mens en hulle omgewing. *Geografie  kwalifiseer ook as ʼn universiteitsvrystellingsvak.

VAKINHOUD:
Wisselwerking tussen die mens en sy omgewing, Bevolking en verstedeliking, Ontspanning, toerisme en ekonomiese aardrykskunde, Data-insamelingstegnieke, lugfotografie, kaart-analise en interpretasie. Wêreldprobleme en hulpbronne, Fluviale prosesse, Geomorfologie, Klimaat en weer, GIS.

BEROEPSMOONTLIKHEDE:
Stads- en streeksbeplanning, Geologie, Kartografie, Landskapsargitektuur, Weerkunde, Omgewingsbewaring, Rotsmeganika, Lugvaartkunde, Hidrologie, Argeologie, Sterrekunde.
Word ook sterk aanbeveel vir: Argitektuur, Bosbouwese, Vervoeringenieurswese, Grondkunde, Mynbou-ingenieurswese, GIS-rekenaar.

So, of jy nou tuisskool, 'n tutorsentrum bywoon of tuisonderrrig deur afstandsleer vanuit 'n verafgeleë dorpie in Suid-Afrika doen en wil matrikuleer, is hierdie die mees algemene/verpligte vakke wat enige leerder moet/kan neem. Vir afstandsonderrig is hierdie die vakke wat nie 'n te groot praktiese komponent het wat die saak vir afstandsleerders bemoeilik wat dalk nie fasiliteite soos laboratoria beskikbaar het nie.  Hierdie vakkombinasies is ook 'n veilige keuse indien die tuiskoler graag Universiteitsvrystelling wil bekom.
--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.

Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.