Friday, September 19, 2014

Watter vakke is verpligtend as ek my Nasionale Senior Sertifikaat wil behaal?

Vakkeuses vir leerders en afstandsleerders in Graad 10-12 vir die VOO-fase


Aan die einde van Graad 9 moet alle voornemende Graad 10 kandidate, sewe vakke uit die ''Verdere Onderwys en Opleiding- kurrikulum'' kies waarmee hulle wil matrikuleer om hul Nasionale Senior Sertifikaat te behaal.

Hierdie vakkeuse is 'n belangrike besluit wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, aangesien die NSS nie opsigself verdere studies verseker nie. Elke Graad 9 leerder behoort hul persoonlike akademiese belangstelling en -vermoë ingedagte te hou wanneer hulle die keuse uitoefen, maar terselfdertyd moet die leerder verseker dat hy sy opsies vir moontlike Universiteitstudies na matriek of in die verre toekoms oophou. 

Universiteite, Tegnikons en Kolleges regoor Suid-Afrika het bepaalde toelatingsvereistes waaraan voornemende studente moet voldoen indien hulle toelating tot sulke instansies wil bekom. Aspekte soos die regte vakke vir die bepaalde studierigting, sowel as spesifieke akademiese prestasie in bepaalde vakke word as toelatingsvereistes gestel.  Elke Graad 9 leerder moet hierdie inligting ingedagte hou wanneer vakke vir Graad 10-12 gekies word.  Dit is en bly die ouer en leerder se verantwoordelikheid om die regte, ingeligte keuses te maak, aangesien die verkeerde besluite uiters beperkend kan wees vorentoe. 

Graad 9 leerders is nog maar jonk wanneer hulle hul vakkeuses moet uitoefen en nie almal weet al in Graad 9 watter beroep hulle eendag wil volg nie. Ouers word aangeraai om hul kinders formele toetse te laat aflê wat hul kind se belangstellings en persoonlikheid kan uitwys en ook gepaste beroepe kan voorstel. Hierdie toetse kan met groot sukses deur die loop van Graad 9 by universiteite of erkende loopbaanberaders gedoen word. Die uitkoms van sulke toetse dui met groot akkuraatheid die moontlike beroepsrigtings en die gepaste vakkeuses vir die leerder aan en bied uitstekende leiding aan ouers en leerders om ingeligte besluite te neem

Verpligte vakke

Alle Graad 10-12 Leerders word verplig om die volgende vakke te neem as hul die NSS wil verwerf:
  • Huistaal, bv. Afrikaans 
  • Addisionele Taal, bv. Engels
  • Wiskunde / Wiskunde Geletterdheid *
  • Lewensoriëntering **

Keuse vakke

Leerders kan enige DRIE keuse vakke kies, maar let wel, nie alle keuse vakke word by alle instansies aangebied nie. Cum Laude Akademie: SACAI Assessering- en Tutorsentrum,  bied bv. die volgende algemene vakke aan:
  • Fisiese Wetenskap
  • Rekeningkunde
  • Geografie
  • Ekonomie
  • Geskiedenis
  • Besigheidstudies
  • Lewenswetenskappe 
Cum Laude Akademie spesialiseer in hierdie bogenoemde vakke omdat dit die meeste leerders in 'n goeie posisie plaas om vryelik verdere professionele studierigtings en beroepskeuses te maak. Ander instansies mag egter verdere vakke soos Toerisme, Verbruikerstudies, RTT, Landbouwetenskappe, Visuele Kunste, Dramatiese Kuns ens. aanbied.

Wat moet ek kies: Wiskunde of Wiskunde Geletterdheid?

* Die VOO kurrikulum vereis dat leerders Wiskunde òf Wiskunde Geletterdheid as vak neem. Wiskunde is 'n vak wat vir baie leerders 'n slegte konnotasie het, maar tog is daar diegene wat die vak met gemak bemeester.  Vir ander mag Wiskunde Geletterheid meer gepas wees.

Wiskunde Geletterdheid moet egter nie as ‘n maklike uitweg gesien word en lukraak gekies word indien leerders nie kans sien vir Wiskunde nie. Met die regte hulp en oefening kan Wiskunde beslis bemeester word. 

Waar Wiskunde o.a. logiese denke, probleemoplossing en besluitneming in leerders ontwikkel, doen Wiskunde Geletterdheid eintlik maar dieselfde en ontwikkel vaardighede wat leerders in die moderne wêreld benodig en die gebruik van tegnologie word ook in hierdie kursus ontwikkel.

Wiskunde en Wiskunde Geletterdheid verg albei baie aandag en gereelde oefening. As die leerder daagliks met die vak werk en ''speel'', word begrippe en patrone vasgelê wat Wiskunde maklik maak om te verstaan.

Maak egter baie seker of die leerder se naskoolse studierigting nie dalk Wiskunde in plaas van Wiskunde Geletterdheid vereis nie. Wiskunde Geletterdheid moet NIE gekies word as leerders Geneeskunde, Ingenieurswese of Wiskundige rigtings soos B.Com wil studeer na skool nie. Daar is wel baie studierigtings waarvoor Wiskunde Geletterdheid voldoende is, maar leerders moet hul opsies deeglik ondersoek voor hul hierdie keuse gemaak word. 

Wat is Lewensoriëntering?

** Lewensoriëntering is ‘n verpligte vak wat tot en met die Rekordeksamen in Graad 12 eksamineer word. Leerders word nie tot die NSS toegelaat sonder bewyse dat hul Lewensoriëntering as vak geneem het nie. Die vak vereis spesifieke take, toetse en eksaminering wat uiteindelik in die Graad 12 leerder se portefeulje sigbaar moet wees voordat die matrieksertifikaat uitgereik word.

Lewensoriëntering fokus daarop om leerders te lei hoe om hul eie lewens te bestuur, stres te hanteer, aansoek te doen om betrekkings, hul regte en pligte as landsburgers te verstaan en gesonde, verantwoordelike lewenskeuses uit te oefen. Die inligting is beslis bruikbaar en prakties vir alle leerders en moet nie afgeskeep word nie.

--------------------------------------------------------

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.

Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.