Friday, September 12, 2014

Tuisskoling is NIE vir sussies nie



Is tuisskoling slegs vir sussies wat dit nie in die publieke skool kan maak nie? 

Beslis nie! Tuisonderwys is juis NIE vir sussies nie. 

Te gereeld hoor mens uitsprake van oningeligde mense wat reken dat tuisonderrig niks goeds vir leerders inhou nie. Kwansuis meen hulle tuisskolers weet nie hoe om: 
  • te sosialiseer nie
  • gesag te aanvaar nie en 
  • hulself in die wêreld daarbuite te handhaaf nie.

Dat daar wel tuisskolers is waarvan hierdie aantuigings waar is, mag sekerlik so wees, maar daar is ook ordes meer tuisskolers in Suid-Afrika vir wie dit die beste roete na akademiese sukses is. 
  • Leerders wat gefokus wil werk en top akademiese resultate wil behaal, doen wonderlik met tuisonderrig! 
  • Leerders wat wegraak in groot klasse en individuele aandag benodig, floreer met tuisskoling. 
  • Diegene wat agtergeraak het in die skool en oorweldig was deur die werkslading, baat by tuiskoling.
Die feit bly, as tuisonderrig reg gedoen word en nie as verskoning vir luiheid en rigtingloosheid aangehang word nie, of bloot gedoen word om op skooluniforms te spaar nie, is dit 'n wonderlike manier waarop ouers hul kinders kan lei en stuur om hul beste self te word.  Trouens, toenemend meer families in Suid Afrika KIES tuisonderrig om meer in beheer van hul kinders se prestasies en toekoms te wees!


Moet ouers gekwalifiseerde onderwysers wees om hul kinders self te leer?

Alhoewel dit beslis baie sal help om gekwalisfiseerd te wees, is dit geen vereiste nie. Dit is in sommige gevalle selfs beter as die ouer / voog nie die ''juffrou'' probeer wees nie! Die kern van tuisonderrig is om die leerder in hul studies te interesseer en aan te moedig om selfwerksaam te raak omdat dit opwindend is om kennis in te win. Die ouer se rol beweeg dus weg van die tradisionele "onderwyser" af en word eerder 'n fasiliteerder wat die leerklimaat skep waarin die leerder suksesvol kan wees. Spesialis vakkundiges kan altyd betrek word indien nodig om daardie krapperige areas aan te spreek wat van tyd tot tyd opduik.

Is tuisskoling wettig in S.A?

In Artikel 51(1) van die S.A. Skolewet, 84 van 1996 word ouers / voogde toegelaat om hul kinders tussen Graad R-9 te tuisskool. Die Skolewet vereis wel dat sulke leerders by die Departement van Basiese Onderwys moet registreer, aangesien die leerders skoolpligtig is. Ouers wat kies om te tuisskool moet aan departementele vereistes voldoen en deeglike rekord van alle werk hou, gereed vir departementele inspeksie. Die departementele vereistes is nie buitensporig of vreesaanjaend nie, maar neem bietjie dissipline en organisasie om dit by te hou. 

Waar kry ek my kinders wat in Graad R-9 is, se kurrikulumboeke?

Die Departement beperk nie Graad R-9 tuisskoolkurrikulums nie, so ouers is vry om die materiaal van hulle keuse vir hul kinders te gebruik en selfs te meng en pas soos hulle wil. As mens egter nie onderwysagtergrond het nie en onseker en onervare is, mag dit wys wees om met tuisskoolkenners by Cum Laude Akademie kontak te maak sodat ons u kan begelei in u keuse van kurrikulum.

Verskeie kurrikulums vir Graad R-9 is vryelik beskikbaar by akademiese boekwinkels se skole afdelings en 'n see van bruikbare boeke is joune om van te kies! Ander kurrikula is ook op die internet beskikbaar. Dit is egter onnodig om duur opsies te kies: boeke werk steeds wonderlik en kan maklik weer deur jonger kinders herbruik word. 

Kan tuisskolers 'n matrieksertifikaat met Universiteitsvrystelling verkry? 

Ja beslis! Leerders wat nie meer van skoolpligtige ouderdom is nie en Graad 10-12 wil aanpak, hoef nie by die Departement te registreer nie. Sulke leerders moet wel by 'n geakkrediteerde eksamenraad registreer indien hulle die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wil bekom en by tersiêre instansies wil gaan studeer. Daarbenewens moet hul aan die vakkeuse- en prestasie vereistes van die betrokke beoogde kursus voldoen en self toelating tot die instansie bekom.

Graad 10 -12 tuisskolers kan deur middel van afstandsleer of sentrumleer by Cum Laude Akademie inskakel. Ons help ouers en Graad 10-12 leerders deur aan die die regering se vereistes te voldoen deur hulle by die Suid Afrikaanse Komprehensiewe Assesserings Instituut (SACAI) te registreer en ook te verseker dat alle skoolwerk, take, toetse en eksamens op datum is en deur SACAI gemodereer word ten einde die NSS te verkry. 

Die NSS kwalifikasie dek Graad 10-12 wat eintlik een kwalifikasie is wat oor 3 jaar versprei word. Die 3 grade is op grond van die nuwe amptelike KABV (CAPS) kurrikulum onlosmaaklik deel van mekaar. SACAI en Umalusi (die regering se raad wat aangestel is om die kwaliteit van SA se primêre en sekondêre opvoeding te verseker) hou 'n stewige hand op Graad 10-12 leerders en die administrasie wat daarmee gepaard gaan. 


Hoe skryf tuiskolers eksamen?

Graad R-9 se toetse en eksamens kan deur ouers / tutors opgestel en nagesien word. Deeglike rekords van die vraestelle en die memoranda moet gehou word, asook bewyse van die kind se prestasie in die toets of eksamen. Dit is egter raadsaam dat ouers kinders aan goeie toetse en eksamenomstandighede blootstel in Graad R-9, om hul so voor te berei vir die eksterne eksamens wat hulle vanaf Graad 10-12 sal moet skryf. Eksamenskryf is 'n kuns en 'n belangrike vaardigheid om aan te leer. 

Eksamens en toetse in Graad 10-12 is formeel en deeglike bewys moet daarvan in die leerders se lêers gehou word vir modererering deur SACAI en Umalusi. Alle Graad 12 eksamens, is ekstene eksamens wat deur SACAI opgestel en deur Umalusi gemodereer word en wat in geregistreerde eksamensentrums afgele moet word.

Graad 12 leerders se praktiese werk moet ook ekstern eksamineer word. Die tale het bv. toesprake wat eksamineer word en ander vakke het praktiese komponente wat eksamineerbaar is. Om te verseker dat u kind aan die Graad 10-12 vereistes voldoen, word u aangeraai om u kind by Cum Laude Akademie in te skryf. Cum Laude Akademie is in noue kommunikasie met SACAI en as geregistreerde assessering- en tutorsentrum weet ons hoe om die pas vir leerders aan te gee om aan al die vereistes te voldoen.   


Is tuisonderwys iets wat uitvallers of uitblinkers aanpak?

Tuisonderwys vir Graad R-9 is nie kinderspeletjies is nie. Beide uitblinkers en uitvallers kan by tuisskoling baat mits die leerder goed georganiseerd is, die leerder met toewyding begelei word en die ouer en leerder oor selfdissipline en deursettingvermoeë beskik.

Graad 10-12 leerders het beslis eksterne begeleiding nodig! Die slaagvereistes en skoolgebasseerde assessering wat deesdae baie spesifiek is, is 'n mondvol en moet deeglik nagekom word. Deur by Cum Laude Akademie in te skakel, kan Graad 10-12 leerders wat by die Sentrumleerprogram in Centurion inskakel, die nodige begeleiding daagliks ontvang en saam met ander tuisskoolmaats die werk bemeester. Alternatiewelik, kan leerders deur middel van Cum Laude Akademie se Afstandsleerprogram, tuis studeer. In hierdie geval word van ouers verwag om te verseker dat alle werk soos gespesifiseer, deur hul kinders bygehou word, voltooi en bemeester word en die nodige organisasie en begeleiding te verskaf om aan alle vereistes te voldoen.


__________________________________________________

Cum Laude Akademie is 'n geregistreerde SACAI Assesseringsentrum in Centurion. Graad 10-12 leerders woon daagliks die tutorsentrum by en gebruik dieselfde KABV sillabus as wat die skole gebruik. Die Cum Laude sentrumleerders word afgerig en toegrus om die jaar se sillabus betyds te voltooi en slaggereed vir die eksamen te wees. Graad 12 leerders skryf die Nasionale Senior Sertifikaateksamen en ontvang 'n Umalusi-sertifikaat, wat toegang verleen tot universiteite en kolleges, mits die vakkeuses en uiteindelike prestasies dit toelaat. 

Registrasies vir Graad 10-12 leerders in 2015 is nou oop.
Kontak Cum Laude Akademie vandag nog om jou kind te registreer.